HEIDELBERG NUUS - Die Heidelberg Gemeenskaps Polisiërings Forum (GPF) onder leiding van hul voorsitter, Heinrich Hartnick, het Maandag, 30 Augustus amptelik Vrouemaand met 'n vingerete en motiveringspraatjie afgesluit.
Die verrigtinge in die plaaslike hotel is deur 15 vroue bygewoon.
Benewens Hartnick was Ben Dell, GPF kassier, lt kol Sipho Dyani, plaaslike stasiekommissaris, sers Imorgene Hendricks, media en sosialebeampte, raadslid Lisby Pieterse, Annelene Hartnick, voormalige wyksraadslid en opvoeder, asook Dottie Page, traumaberader en stigterslid van die plaaslike traumakamer, ook daar. Page is al vir die afgelope 18 jaar 'n berader en is met 'n sertifikaat van waardering beloon vir haar onbaatsugtige, passievolle diens.
Dyani het die GPF bedank dat hulle vroue in ankerrolle vereer en die traumaberaders geloof vir hul diens aan die kwesbaarstes in die gemeenskap.
Volgens Dyani is die GPF 'n groot bate vir die plaaslike polisie. Hy het hulle goeie werksverhouding benadruk. Andrid Goliath, jeugleier, het 1 Kronieke 12 vers 17 aan die aanwesiges voorgehou.
Hartnick het die vroue bedank en hulle ook kortliks bemoedig. "Die wêreld is vol goeie mense, as jy nie een vind nie, wees dan self een," het hy gesê.
Gameda Booysen, GPF-projekkoördineerder en self 'n traumaberader, het van haar persoonlike ervaringe gedeel. Volgens Booysen het sy self deur diep waters met haar kinders gegaan, maar nooit hoop verloor nie. "As jy in 'n moeilike situasie kom, moenie bly lê nie, staan op en ruk jou reg," het sy met vertroue gesê.
Page het erken dat sy al male sonder tal uit wou tree, maar dat sy aanhou om passievol haar rol vervul omdat sy weet dat daar altyd iewers iemand is wat haar nodig het.
GPF-lede het die funksie inisieër en befonds. "Dit is nie met GPF-fondse befonds nie, ons as lede het self die nodige fondse ingesamel," het Ben Dell, GPF kassier gesê.
Die groep vroue is deur die plaaslike GPF onder leiding van Heinrich Hartnick, heel links voor, bederf. Agter in die middel is lt kol Sipho Dyani en heel regs is Ben Dell, GPF kassier. Raadslid Lisby Pieterse staan heel links, met Annelene Hartnick vyfde agter. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'