HESSEQUA NUUS - Talle afstammelinge van die Botha-patriarg, asook oudwerknemers van die voormalige Atoomenergie Korporasie (AEK) het onlangs op die Gourikwareservaat saamgetrek om in die verlede te delf en stories uit te ruil sodat dit vir die nageslag bewaar kan word.
Wat vandag die grootste privaat natuurreservaat langs die Suid-Afrikaanse kuslyn is, was destyds die speelgrond van die Botha-kinders, Nicolaas, Beatrix (Brand), Marietha en Anel.
Hulle en hul gades het saam met enkele oudwerknemers van die AEK 'n besonderse naweek as gaste van die Gourikwareservaat deurgebring.
Die huidige eienaars van die reservaat, Thys en Christene Neser en Dave Savage het die groep aangemoedig om staaltjies te deel. Boonop word 'n spesiale area afgestaan juis om die geskiedenis van hierdie unieke stukkie aarde te bewaar.
Omgewingsramp
Plase is in die vroeg 1700's in die omgewing uitgemeet en hierdie afgeleë landskap was tot in die vroeg 1970's baie geïsoleerd. Dit het bekend geword na die SS Haliartus in 1932 by Ystervarkfontein gestrand het. Groot hoeveelhede sianied aan boord wat vir mynbou bestem was, is mettertyd vrygestel. Die gif het matelose skade aan die omgewing en veral die seelewe aangerig. Die wrak het ook die belangstelling van talle mense in die omgewing geprikkel en talle het opgedaag om die strande vir skroot en waardevolle items uit die wrak te fynkam.
Jongste vuurtoring
'n Vuurtoring is in 1964 by Ystervarkpunt opgerig, en die destydse staalstruktuur is in 2006 met 'n steenstruktuur van 51 meter hoog vervang. Tans is dit die jongste vuurtoring in Suid-Afrika.
Die Botha-nasate en hul gades het die ou familiewoning en wat oor is van die familiebegraafplaas besoek. Nicolaas, wat maar 'n kannetjie was toe die gesin die plaas in 1969 verkoop en ontruim het, en sy susters vertel hoe hulle molle gejag en met die krappe by die talle fonteine gespeel het. "Ek onthou die baie rietpolle, die rietmolle en die krappe maar alte goed," sê hy.
Kernkragaanleg
Vier verskillende plase in die area bekend as Buffelshoek, is in 1980 deur die AEK aangekoop en na Gouriqua herdoop. Die doel was om 'n kernkragaanleg op te rig. Die hoë koste daaraan verbonde het uiteindelik daartoe gelei dat die projek gestaak is. Tog was die area tot 1994 'n nasionale sleutelpunt en ontoeganklik vir die publiek.
Vandag nog is oorblyfsels van daardie jare se aktiwiteite op die landgoed te sien en is die area se uitstekende padnetwerk juis aan die AEK te danke.
In 1994 is die AEK-gronde aan die Duitse-egpaar Monica en Gerhard Rein verkoop en as toeristebestemming ontwikkel. In 1995 is die 6 066 hektaar grond, wat oor vyf kilometer langs die Indiese Oseaan strek, as privaat reservaat geproklameer. Rein het ter ere van sy vrou ná haar dood die Monica-kapel op die strand opgerig.
Die huidige eienaars het in 2015 by Rein oorgeneem en streef nou daarna om, in noue samewerking met die naburige grondeienaars, die bewareas en CapeNature die area en sy stories vir die nageslag te behou.
Afstammelinge van die Botha-patriarg wat op die grond geboer het waar die Gourikwareservaat gevestig is, asook oudwerknemers van die voormalige Atoomenergie Korporasie het onlangs die verlede herleef deur stories met mekaar te deel.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'