MELKHOUTFONTEIN NUUS - Tien jaar nadat die Dreamcatcher Foundation hier met hul omvattende sosio-ekonomiese ontwikkelingsprojek, 'Wasteland Graced Land' begin het, het 11 persone 'n noodhulpkursus suksesvol voltooi.
Elf is plaaslike inwoners en een is van Riversdal wat die vlak 3, department van arbeid geakkrediteerde noodhulpkursus, aangebied deur Silver-Link se Tilana Coetzee, voltooi.
Die span is in die gemeenskap opgedeel en ontplooi om dié noodsaaklike noodhulpdiens op Melkhoutfontein te verrig.
Die kursus maak deel uit van die omvattende Wasteland Graced Land-projek met sy veelvuldige fasette, wat onder die aanvoering van die Dreamcatcher Foundation se
stigter, Anthea Rossouw en raad van trustees wat 'n holistiese benadering volg, in 2008 in die breë gemeenskap van stapel gestuur is.
Die ander bene van die projek sluit onder meer die gesondheids- en fiksheidsprojek vir meisies en vrouens, genaamd Kick-up Kamammas; Food for Life, waar kos organies gekweek word; 'n tandeversorgingsprojek; 'n sokkerprojek met professionele afrigting vanuit Nederland vir plaaslike kinders; die Arts & Crafts for Humanity-projek; die kleurvolle PaintUp with Kamamma-projek en die herstel van die historiese St. Augustine's kerk.
Die projek het sy naam, 'Wasteland Graced Land' te danke aan die feit dat die gemeenskap tussen twee stortingsterreine bly. Van die artikels en afval wat uit die stortingsterreine herwin is, word selfs in die kunswerke en verbruikersartikels hergebruik in die werkskeppings- en opleidingsprojek.
Deur van plaaslike hulpbronne gebruik te maak, word waarde tot die omgewing en afval gevoeg terwyl 'n volhoubare sirkulêre ekonomie gekweek word. Inwoners met talent kan hulself nou skeppend uitleef en boonop broodnodige inkomste verdien.
'n Werkgroep bestaande uit Dreamcatcher, die plaaslike owerheid en ander plaaslike instansies is in die lewe geroep om volhoubaarheid aan te spreek wat betref die impak van vullis in die gemeenskap en omgewing. Die projek geniet wêreldwye erkenning vir volhoubaarheid, innovasie, gemeenskap- en omgewingsimpak en lok 'n beduidende getal besoekers vanuit die buiteland na Melkhoutfontein, onder wie akademiese instellings en gemeenskapsleiers met positiewe gevolge vir die breër Hessequa-gebied.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'