Breaking News Update
MOSSELBAAI NUUS - Die twee mans wat gister in ‘n trompop botsing op die N2 naby Mosselbaai dood is, is geïdentifiseer as Lesley London (39) en Samuel (Seun) Smit (35).
London het op Mosselbaai gewoon en Smit op Albertinia. Smit het in ‘n Ford Ranger gery en was op pad na sy werkplek naby Mosselbaai terwyl London onderweg was om brood by skole in sy Toyota Hilux bakkie af te lewer.
Die oorsaak van die ongeluk, wat om ongeveer 08:20 gebeur het, is nog nie bekend nie.
‘n Familielid van London het aan die Mossel Bay Advertiser gesê London was ‘n bekende gesig in sportkringe op Mosselbaai.
“Hy was ‘n hulpafrigter by die Barbarians en was ook betrokke by Uniondale se A-span en B-span.”
London het gematrikuleer by Hoërskool Sao Bras en het ‘n groot invloed op die omgewing se kinders gehad toe hy onder meer straatkrieket begin het.
Hy sou oor ‘n paar maande sy 40ste verjaarsdag vier.
Smit se vrou, Ria is gebroke oor haar man se skielike dood en het aan die Advertiser gesê hy laat vyf kinders agter.
“Hy was ‘n man wat werk toe gegaan het en weer huistoe gekom het.”
Smit was in sy werkgewer se voertuig toe die botsing plaasgevind het.
Die KwaNonqaba-polisiestasie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Begrafnisreëlings is nog nie bekend gemaak nie.
Vorige artikel: Twee dood in botsing op N2
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’