Update
RIVERSDAL NUUS - Inwoners van Riversdal, leerders en personeel van Hoërskool Langenhoven, familie en vriende het met hartseer verneem van die afsterwe van een van die dorp se bekendste inwoners, 'n legende in eie reg.
Piet de Villiers, die skoolhoof van Langenhoven is Vrydag, 17 Desember in die Life Bayview privaat hospitaal op Mosselbaai oorlede.
Hy is Donderdag opgeneem nadat hy die afgelope tyd erge nierprobleme ondervind het.
Hy is op Brandvlei gebore en het sy hoërskoolloopbaan aan Hoër Jongenskool Paarl voltooi. Hy was 'n veelsydige sportman wat op die rugbyveld, krieketveld en tennisbaan ewe tuis was.
Na sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch (BA, B Ed) het hy sy onderwysloopbaan op 1 Januarie 1981 by Langenhoven begin. Op 1 Januarie 1997 word hy skoolhoof, 'n pos wat hy met onderskeiding die afgelope 25 jaar beklee het.
Hy en sy vrou, Susan was 38 jaar getroud en uit die huwelik is twee dogters gebore.
Volgens Mariëtte van Vuuren, voorsitter van die beheerliggaam, het hy tydens sy loopbaan as opvoeder en hoof, talle leerders beïnvloed, geïnspireer en gemotiveer tot hoë hoogtes, vandaar die uitstekende akademiese rekord van Hoërskool Langenhoven. Onder sy bekwame leiding en administratiewe presisie het Langenhoven gegroei tot 'n streekskool met 500 leerders.
Hy het hierdie jaar afgetree en die skool het op 16 November van hom afskeid geneem. Hy en sy vrou is met 'n gholfkar onder begeleiding van 'n blaasorkes deur 'n erewag van leerders met waaiende vlaggies geneem.
Op die skool se webblad was die volgende plasing deur die beheerliggaam, personeel en leerders: "Dit is met groot hartseer dat ons die afsterwe van ons geliefde skoolhoof bekendmaak. Hy sal onthou word vir sy waardigheid en sal altyd in ons harte voortleef. Ons opregte simpatie aan sy vrou, kinders, kleinkinders en familie. Rus sag, Oupa Das."
De Villiers laat sy vrou, Susan, sy dogter Corli Wiese en twee kleinkinders agter.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nie bekend nie.
Vorige artikel: Geliefde skoolhoof sterf skielik
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'