HEIDELBERG NUUS - 'n Bekende en geliefde inwoner en onderwyser van die dorp, Maureen February (52) is Saterdagoggend 7 Oktober ter ruste gelê.
Sy het Donderdagoggend 28 September na 'n kort siekbed gesterf. Maureen het geruime tyd probleme ondervind en is 'n paar maande gelede met kanker gediagnoseer.
Sy het gereeld bestraling ondergaan.
Maureen het haar as opvoeder by die destydse Onderwys Kollege Suid-Kaap (OKSK) vanaf 1984 tot 1986 bekwaam.
Sy het haar onderwysloopbaan by Bontebok Primêr op Swellendam begin en is daarna by primêre skole Suurbraak en toe by Krombeksrivier waar sy tot einde 2013 vir 21 jaar gewerk het.
Sy was sedert 2014 tot vroeg in die jaar by De Waalville Primêr in diens.
Sy was 'n groot sportliefhebber en het haar as netbalspeler op skool, sowel as kollegevlak bewys.
Sy was ook 'n lojale lid van St. Barnabas Anglikaanse kerk.
Haar enigste broer, eerw. Johannes Paige het die begrafnisdiens by die kerk waargeneem.
Hy is die pa van Rudy Paige, Springbok-skrumskakel wat nie die begrafnis kon bywoon nie as gevolg van sy insluiting in die span teen die All Blacks op Nuweland.
Sy laat haar eggenoot Gavin, twee dogters, Gaymore en Heleceen, 'n seun, Reevin, een kleindogter, asook drie susters agter.
Lees 'n vorige artikel: Geliefde onderwyser word begrawe
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'