RIVERSDAL SKOLE NUUS - Graad 8-leerders is tussen 11 en 17 Julie oor die belang van 'n gesonde gees ingelig. Julie is Geestesgesondheidsbewusmakingsmaand op die Wes-Kaap regering se gesondheidskalender en alle aspekte van geestesgesondheid word in hierdie periode onder die kollig geplaas.
Skoolsuster Magda Schaap het die leerders aangemoedig om te praat en hulp te soek as hulle ongelukkig of hartseer voel of as iets pla.
"Praat met iemand wat jy kan vertrou; dit kan 'n onderwyser, die skoolsielkundige, die maatskaplike werker, jou ouers, of 'n goeie vriend wees. Leerders kan ook die Depressie- en Geestesgesondheidhulplyn gratis skakel by 0800 567 567."
Tydens die besoek is die gewilde B-Wise-toepassing ook bespreek. B-Wise is 'n nasionale selfoontoepassing met 'n magdom inligting vir jongmense tussen 10 en 24 jaar oud. Nadat registrasie op bwisehealth.com gedoen is, gebruik die toepassing geen data nie.
Gebruikers kan vrae vra en antwoorde van professionele persone kry binne 48 uur. Daar is ook 'n afdeling vir geestesgesondheid, 'Mental Health Toolbox'.
Marlene Hendricks (skoolverpleegassistent) saam met 'n paar van die gr. 8-leerders.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'