Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Toeriste aan die Hessequa-streek is tydens 'n N2-verwelkomingsprojek buite Riversdal met 'n geskenkpakkie, koeldrank en elk 'n spekboompie welkom geheet.
Uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, speaker van die raad, Andrew Stroebel en die adjunkhoof van munisipale verkeersdienste, Mornay Dyason het die motoriste met 'n woord van verwelkoming aangemoedig om die vakansie te geniet, maar seker te maak die Covid-19-voorsorgmaatreëls word eerbiedig.
Met die verwelkoming en die uitdeel van pakkies was toeriste sigbaar verstom om die gasvryheid van die streek binne te ry.
Riddles het die noodbeskermings- en verkeersdienste voor die padblokkade toegespreek en gesê die feesseisoen gaan vol uitdagings wees.
Hy het die personeel bedank vir hul toegewyde werk.
Fotogalery: Toeriste met geskenkpakkies verwelkom
"Ons as raad besef julle het 'n moeilike jaar agter die rug en het uitstaande diens gelewer, maar ek vra julle om asseblief tydens die feestyd nog meer en 'n beter diens te lewer."
Hy het die personeel verseker dat hulle die amptenare is wat Hessequa-munisipaliteit se goeie beeld na buite dra.
Kyk 'n video hieronder:
Stroebel het hulle aangemoedig om die Covid-19-regulasies streng toe te pas, maar steeds vriendelik teenoor die publiek te wees."Kom ons wees die goeie een in die verhouding," het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat die toeriste die boodskap moet kry dat Hessequa oop is. "Hulle moet weet ons is gereed en dat hulle welkom in ons streek is. Sê vir die toeriste hulle moet kom kuier en hul vakansie geniet."
Hy het verduidelik dat daar soveel ander besienswaardighede en aktiwiteite binne die streek is om te geniet, as om net op die strande te gaan uitspan. "Ons het die pragtigste streek moontlik in die Tuinroete," het hy gesê.
Speaker Andrew Stroebel deel geskenkpakkies uit en verwelkom toeriste.
Adjunkhoof van munisipale verkeersdienste, Mornay Dyason tydens die padblokkade.
Vorige artikel: Toeriste verwelkom by vriendelike padblokkade
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'