Update
ALBERTINIA NUUS - Dié dorp se beroemde kampioenboom, oftewel die Fluisterboom (Whispering Tree) het gedurende die feesgety baie besoekers gelok.
Marietjie Coetzee, eienaar van Voëlroepersfontein-gastehuis en skrywerstoevlugsoord op wie se perseel die boom staan, vertel dat meer as honderd mense die boom sedert die bekendstelling in Augustus verlede jaar besoek het.
Besoekers het, sonder enige koste die boom besigtig en is interessante kommentare oor hul ervarings by die boom, asook by ander plekke op die perseel wat baie fonteine het, geskryf.
Die amptelike goedkeuring vir aanwysingsborde is reeds in September verleen, maar daar word nog vir die mates vir die borde gewag.
Meeste van die bewusmaking van die Kampioenboom is deur berigte in Suid-Kaap Forum, ander koerante, internet, 'n radiostasie en borde by Engen-vulstasie gedoen.
Bewusmaking deur borde soos op die N2 vir die 'Big Tree' in die Tsitsikamma-gebied sal groot getalle toeriste na die dorp se Kampioenboom kan lok, wat 'n groot inspuiting vir plaaslike toerisme kan wees.
Die amptelike jaarlikse besoekersyfers vir die 'Big Tree' is 90 000.
Die Fluisterboom, 'n yslike wildevy (Ficusburkei), is amptelik tydens 'n spoggeleentheid in Augustus bekendgestel na maande se onderhandelinge en besoeke deur die departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF).
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, was gasspreker tydens die geleentheid en 'n aanbieding oor die Kampioenboom-projek is deur Izak van der Merwe, koördineerder van die Kampioenboom-projek gedoen.
Die projek het ten doel om individuele bome en groepe bome van nasionale bewaringsbelang te identifiseer en as beskerm te verklaar.
Sodanige bome word verklaar onder die nasionale boswet van 1998 en mag nie gekap of beskadig word sonder lisensie nie.
Sulke lisensies word egter slegs oorweeg indien bome 'n wesenlike gevaar vir lewe of eiendom inhou, maar dit het nog nie in die projek se bestaan gebeur nie.
Die projek het sy oorsprong in 2004 toe die sogenaamde Sophiatown-eikeboom tot so 'n mate deur 'n huiseienaar verniel is, dat dit later doodgegaan het.
Hierdie reuse-eikeboom in Johannesburg se ou woonbuurt Sophiatown, het die gedwonge verskuiwing van 'n gemeenskap in 1955 oorleef en was die dramatiese middelpunt van die vergeefse protesaksies wat die sloping van die karaktervolle multi-kulturele buurt voorafgegaan het.
Marietjie Coetzee staan by die nuwe hek in Matoppostraat wat toegang tot die Fluisterboom vergemaklik. Foto's: Jeff Gibson, korrespondent
Dit was juis om 'n herhaling van so 'n tragiese verlies aan boomerfenis te voorkom dat die Kampioenboom-projek van stapel gestuur is.
Wildevybome kan massiewe afmetings aanneem. Die Wonderboom in Pretoria bestaan eintlik uit 'n moederboom, met drie kringe dogterbome wat ontspring het waar die oorspronklike boom se takke die grond geraak het.
Hierdie boom het die wydste kroonwydte, wat onlangs op 61 meter gemeet is.
Vir jare lank het lede van die Ndzindza Ndebele stam geglo dat die boom sy groeikrag ontvang het van hoofman, Nyabele Mhlanga, wat volgens hulle daar begrawe was.
Nyabele was deur die ou ZAR republiek in Pretoria gevange gehou vir sy aandeel in 'n rebellie en is in 1899 vrygelaat.
Interessant om te weet
Wêreldwyd is daar verskeie kampioenboom-projekte, maar Suid-Afrika s'n is die enigste in Afrika.
Dit is al deur die Verenigde Nasies bestempel as 'n 'beste praktyk' wat deur ander Afrikalande nagestreef behoort te word.
Streng kriteria word toegepas om bome as Suid-Afrikaanse kampioenbome te selekteer en in die afgelope 13 jaar is slegs 81 bome verklaar, met 'n verdere vier nuwe bome wat onlangs tot die lys toegevoeg is - waarvan die Fluisterboom een is.
Hierdie kriteria sluit in die grootte van bome, ouderdom, landskapwaarde, ekonomiese en historiese waarde.
'n Paneel van kundiges beoordeel nominasies wat elke jaar aan die departement gestuur word en doen dit volgens 'n puntestelsel wat aan die kriteria gekoppel is.
Die publiek kan sodanige nominasievorms op die departementele webwerf by www.daff.gov.za kry of by die koördineerder van die kampioenboom-projek by izakvdm@daff.gov.za.
Vir meer inligting kan Coetzee gekontak word by 083 228 2779 of e-pos martmari@mweb.co.za.
Lees 'n vorige artikel: Fluisterboom lok baie besoekers
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'