HEIDELBERG NUUS - Die kunsaanbod by die sesde Hessequa Harmonie-kunstefees op Heidelberg was vanjaar 'n reuse aantrekkingskrag en spog met gehalte-werk.
Die opdrag-uitstalling was Forté: In volle vlug, met die tema die hart van die boom, byeengebring deur Anne-Ghrett Erasmus, die kurator van die Breytenbach-sentrum in Wellington.
Dié versameling sluit skilderkuns, beeldhouwerk, fotografie en kunsvlyt deur kunstenaars van oraloor in.
Die Hessequa-kunsroete se uitstalling Tydloos was onder die kuratorskap van Louise Kluyts. Altesaam 22 van die streek se kunstenaars het hul nuutste werke in die stadsaal uitgestal.
Verskeie ateljees in Van Riebeeckstraat was ook bedrywig.
Die Swellendam-kunstenaar Mark Matthysen het 'n solo-uitstalling by die hotel aangebied. Dit was 'n kunsreis van twintig jaar se inspirasie van patroon, tekstuur en kleur.
Die fokus van die Trio-uitstalling by die Firefly Studio het op die kreatiwiteit van klei, metaal en glasuur geval. Die keramiekkunstenaars Dina Grobler, Hendrik Theart en Johann Prinsloo skep asemrowende werk in dié kunsstyl.
Die Ensemble-uitstalling by die Star Nation-galery het treffende kontemporêre werke in houstkool, pastelle en akriel deur die Swellemdam-kunstenaar Francois Gunter versamel. Heidelberg is deur Louise Kluyts, Zelda Truter, Cecelia le Roux en Sonja Malherbe verteenwoordig.
Feesgangers het ook die geleentheid gekry om by verskeie ateljees kunsslypskole in keramiek, skets en mesmaak (deur die metaalmeester Pieter van der Bank) by te woon en om onder die wakende oog van die beeldhouer en kopersmid Andries Kluyts 'n braaipan te maak.
Die kinderkunsuitstalling met die tema Ons hou die kunspot aan die kook bring die 187 inskrywings by die biblioteek byeen en sal nog 'n rukkie besigtig kan word.
Die kunstenaars Zelda Truter, Andries Kluyts en Francois Gunter by die Tydloos-uitstalling. Foto: Amelia Uys, feesfotograaf
Die kunstenaars Louise Kluyts (links), Dina Grobler en Marilise Lombard by die kunskritikus Wim Voster (tweede van links). Foto: CJ de Swardt
Die kunstenaars Jetske Fouché, Marisa de Lange, Sonja Margerison en Marina Stadler in 'n stemmige feesluim. Foto: Amelia Uys, feesfotograaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’