HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie het pas 'n projek oor dwelm- en alkoholmisbruik onder leerders van stapel gestuur.
Die projek onder leiding van serss. Imorgene Hendricks en Danwill Josephs word in samewerking met Mosselbaai korrektiewe dienste uitgevoer.
Volgens Hendricks is die toename van die misbruik van dwelms en drank wat tot tienerswangerskappe lei kommerwekkend.
"Dié soort praktyk onder jeugdiges dra grotendeels by tot die verval van ons gemeenskappe," het sy gesê.
Leerders van Kairos Senior Sekondêre skool is tydens 'n besoek oor die gevare wat die misbruik van dwelms en drank ingelig. Tronkbewaarders Heinrich November en Liezel Cooper het hulle ingelig oor die omstandighede in die gevangenis en hulle gemaan om nié daar te beland nie.
Hendricks het gesê gereelde opvolgsessies word beplan. "Meer regerings- en gemeenskapsgebaseerde instansies sal betrokke moet raak om die groeiende euwel hok te slaan."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'