Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Inwoner van die dorp het 'n missie om 'n veilige tuiste vir vroue en kinders in nood te skep.
"Angel House is my lewensdroom," sê Lilian Burke, voorsitter van KANSA Riversdal.
Sy werk nóú met die polisie saam en doen berading by die traumakamer waarheen slagoffers van geweld wat 'n saak by die polisie aanmeld of uit 'n huishouding of verhouding verwyder word, tydelik verwys word.
Sy werk ook saam met die ACVV en Kinderwelsyn en doen berading by skole waar 'n onafhanklike persoon se hulp benodig word met kinders wat weens moeilike huishoudelike omstandighede onbeheerbaar is. KANSA-kollega Theresa van Vreden help met dié berading.
"Ek is besig om Angel House, 'n nie-regeringsorganisasie sonder winsbejag, te registreer," sê Burke. Die organisasie se belangrikste doelwit is om 'n tuiste vir slagoffers van geweld te skep.
"Daar is 'n oorweldigende behoefte aan veilige huise vir kinders en vroue. Soms gelas die hof dat minderjarige kinders onmiddellik weens aanranding en of seksuele misdrywe verwyder moet word. Hier is veilige huise op die dorp, maar hulle kan nie die aantal gevalle hanteer nie. Onlangs moes 'n driejarige weens gebrek aan 'n geskikte heenkome hier na 'n veilige tuiste in 'n buurdorp geneem word." Volgens Burke bly so 'n slagoffertjie in die veilige tuiste tot die situasie tuis ontlont is en die bedreiging geneutraliseer of verwyder is.
Sy hoop dat die veilige huis ook 'n heenkome vir vroue wat slagoffers van huishoudelike geslagsgebaseerde geweld sal skep. "Talle vroue moet ter wille van hul eie en dikwels ook hul minderjarige kinders se veiligheid dadelik uit die huis verwyder word. By 'n veilige tuiste (shelter), soos dié wat reeds in Mosselbaai, George en Knysna bestaan, word hulle vir drie maande gehuisves terwyl hulle traumaberading ontvang. Hulle word ingelig oor hul regte en verwys na instansies wat kan help met dwelm- en drankverslawing en MIV/Vigs."
Volgens Burke sit talle kankerpasiënte wat van die staatskliniek se vervoer gebruik maak om vir kankerbehandeling na George-, Groote Schuur- en Tygerberg-hospitaal geneem word, die hele nag lank by die kliniek. "Ek wil graag vir hulle 'n gerieflike plek skep waar hulle 'n goeie nagrus kan geniet en waar die ambulans hulle die volgende oggend kan kom haal en na behandeling kan terugbring."
Bowenal wil sy graag sien dat die veilige tuiste vir jong of volwasse vroue 'n nuwe kans op die lewe bied deur vir hulle lewens- en beroepsvaardighede te gee.
As logiese uitvloeisel sal sy graag wil hê die tuiste moet ook 'n kleuterskool en sopkombuis insluit. Sy wil ook projekte bestuur wat sal help om straatkinders terug in die skool te kry.
"Dit moet 'n 24-uur dienssentrum wees waar enigiemand in nood kan aanklop."
Volgens Burke is sy op soek na 'n dorps- of plaashuis of selfs 'n skuur of ander struktuur wat in onbruik geraak het. Sy wil die struktuur omskep in 'n slaapsaal of kamers wat vir 'n oornagskuiling of korttermyn verblyf, kompleet met kombuis en badkamergeriewe ingerig kan word.
Enigiemand wat kan help word versoek om haar by 072 122 2943 te kontak.
Lees 'n vorige artikel hier: Berader wil toevlugsoord skep
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'