Warning: Graphic content
ALBERTINIA NUUS - Daar is onlangs beriggewing gedoen oor kalfies wat op 30 Julie deur die Mosselbaai DBV in Albertinia van kant gemaak is.
Yasmiena en Loudien Salie, het besluit om hulle kant van die storie te vertel sodat die gemeenskap kan weet wat volgens hulle werklik gebeur het.
Die slagting van 52 kalfies het almal geruk, so ook vir Yasmiena en Loudien. Hulle het in totaal 849 kg se kalfsvleis, beter bekend as veal verloor, wat groot skade vir hul besigheid is.
Ongeveer 18:00 die Maandagaand het Yasmiena 'n oproep ontvang waarin sy verwittig is van die DBV wat by die abattoir is. Die inspekteur van die DBV het haar in kennis gestel dat iemand hulle gekontak het in verband met kalfies wat sleg lyk.
Sakkie van der Walt, een van hulle werkers wat verantwoordelik is vir die kalfies, is deur Yasmiena in kennis gestel om te gaan kyk wat aangaan.
Met sy aankoms daar het hy gesien dat die slotte van die hek gebreek is en dat daar twee mans binne is wat hulself later bekendgestel het as inspekteurs van die DBV.
Die perseel waar die kalfies oornag gehou is.
Om 18:22 het Yasmiena 'n oproep ontvang van 'n vrou van die DBV wat volgens haar baie ongeskik was en haar gedreig het om dieselfde aand nog die kalfies te slag, waarna Yasmiena verduidelik het dat dit nie haar abattoir is nie, en dat Riversdal-abattoir laat weet het dat hulle nie daardie dag gaan slag nie.
Die vrou het vir haar gesê sy moet stilbly anders sal sy toegesluit word as sy nie haar samewerking gee nie en die foon in Yasmiena se oor neergesit. Na 'n ruk het die vrou weer geskakel en weer gedreig.
Salie het die polisie na die tweede oproep gekontak waarna sy self na die abattoir gegaan het.
'n Manlike inspekteur het haar ingelig dat hulle 'n probleem het met die kalfies en dat daar twee was waaroor hulle nie gelukkig is nie, en toestemming gevra om hulle eerder te skiet, waarna sy toestemming gegee het.
Daarna het die inspekteur gevra of die diere gevoed is en hoekom hulle daar gehou is. Die rede is aan hom verduidelik, waarna gevra is of hulle die area vir die kalfies kan toemaak en ook om te bewys dat hulle die kalfies gevoer het. Die melkbottels is na hom geneem en die kalfies is toegemaak soos gevra.
Die inspekteur het voorgestel dat hulle 'n beter plek vir die nag kry en hulle weer voed. Yasmiena het 'n vriend gekontak om toestemming te vra om die kalfies vir die aand in sy stoor te hou wat heeltemal toe en warm is.
Die perseel waar die kalfies oornag gehou is.
Die inspekteur was tevrede met dié reëling en het gesê dat sy nie bekommerd hoef te wees nie.
Na ongeveer twee ure het die senior inspekteur van Mosselbaai DBV opgedaag. "Sy het na my toe gekom en gesê daar is nog twee kalfies wat van kant gemaak moet word omdat hulle seergekry het en dat die kalfies nie daar kan bly nie omdat dit 'n sementvloer is, alle abattoir krale se vloere is sement, vir higiëniese doeleindes," het Yasmiena verduidelik.
Die senior inspekteur het skielik besluit dat sy al die kalfies van kant gaan maak. Yasmiena vertel hartseer hoe sy verneder is deur die senior inspekteur wat haar karakter as mens begin aanval het.
"Ek het probeer om met haar te praat, maar sy wou eenvoudig nie na rede luister nie. Sy het my gedreig dat indien ek nie luister nie, sal ek toegesluit word. Selfs nadat daar gereël is vir 'n beter plek soos voorgestel deur die manlike inspekteur, wat tevrede was met die skuif."
Volgens Yasmiena is daar in vorige berigte gesê dat die kalfies honger en gedehidreer was, "Ek weet dit is nie waar nie, want ek het van die kalfies self gesien en hulle was sterk. Die boere het seker gemaak dat hulle almal gevoed is voordat ons hulle opgetel het."
'n Gedeelte van die kalfies is geskiet, die ander se kele is afgesny en op hopies gegooi tot die volgende oggend.
Yasmiena het gevra wie die dooie kalfies moet verwyder waarna die senior inspekteur geantwoord het dat dit hulle probleem is en 'n dokument in haar hand gestop wat sy moes teken. Die volgende oggend het Yasmiena se werkers die kalfies verwyder.
Volgens die Salie-egpaar, mag kalfies wat spesifiek vir halaal doeleindes geslag word, 10 kg en op weeg.
"Ons maak altyd seker dat die kalfies volgens gewig is en nie swak is nie, want die kans dat hulle kan doodgaan voordat hulle geslag word is groter, wat beteken dat ons 'n verlies ly. Ons is al 29 jaar in hierdie bedryf, ons weet wat van ons verwag word en ons werk streng volgens die reëls," het hulle benadruk.
Kalfies wat geslag en op 'n hoop gegooi is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’