RIVERSDAL NUUS - Die Heidelberg- en Riversdal VLV-takke, het vanjaar die 88ste Vroue Landbouvereniging Kaapland- oftewel VLVK-konferensie met groot welslae op Riversdal aangebied.
Die bekende en beminde Johlene Muller het haar laaste presidentsrede na 12 produktiewe jare gelewer en word as sirkelpresident deur Elize Locke van die Voëlvlei VLV-tak opgevolg.
Daar was talle uitstaande aanbiedinge vir die groot groep SWD-teenwoordiges. Onder meer het Driekie Uys van die Herero en Himba stamme in Kunene streek Namibië vertel en Isabel Cronje het oor haar Boesmanland Camino-staproete (ook saam met Amore Bekker van RSG), vir die Red 'n Plaasprojek gesels.
Die beste tak in die sirkel was Voëlvlei.
Die toekenning van die Lubbe-skild vir 'n besondere prestasie wat nie elke jaar gebeur nie is aan die lewenslustige en entoesiastiese VLV-tak, Eden toegeken.
Die Karien van Schalkwyk-skild is aan die sirkelpresident, leefstylsaamroeper en VLVK-beoordelaar, Johlene Muller, toegeken.
Linzetta Smit is aangestel as kurator van die tekstielmuseum in Stellenbosch en as die hoof-beoordelaar en moderator van die leefstyl- en kunste en handvlytkompetisie afdelings.
Die instansie wat mildelik donasies van die sirkel ontvang het, was Goukam Health. Hulle val onder die WCAPD (Western Cape Assossiation for Persons with Disabilities).
Die hoofdiens en fokus van hierdie instansie is om die gestremde persone van die Hessequa-gemeenskap te bemagtig en herintegrasie te vergemaklik. Die gemeenskapsprojek bied die geleentheid vir die gestremde persoon om in 'n dagprogram, aan vaardigheidsopleiding, gedragsverandering, gesinsopvoeding en sosiale herintegrasie deel te neem.
Dit sluit versorgingsdienste, 'n professionele suster vir medikasie, Maatskaplike Werkers vir terapeutiese dienste asook arbeidsterapie in.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'