Update
HESSEQUA NUUS - Die opgradering van twee sportgronde in die Hessequa-streek gaan binnekort begin.
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles het Maandag, 2 November die eerste sooie by onderskeidelik Slangrivier- en Melkhoutfontein-sportgronde gaan spit as voorloper na dié heuglike gebeure.
Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers was by die geleentheid op Slangrivier teenwoordig, maar kon nie na Melkhoutfontein gaan nie as gevolg van ander verpligtinge in George en het verskoning aangebied.
Onder die groepie op Melkhoutfontein was, buiten Riddles, ook Andrew Stroebel (speaker), Werner Manho (direkteur: tegniese dienste), verskeie raadslede, asook Ruby Flores, Melkhoutfontein Primêre Skool se hoof.
Manho het kortliks verduidelik wat reeds met die R1,5 miljoen wat spandeer is, gedoen is. "Van die opgraderingswerk sluit onder meer in 'n besproeiingstelsel wat aangelê is, 'n klompie watertenks wat opgerig is en nuwe gras is aangeplant." Die projek vir beide sportvelde beloop R11 miljoen, wat aangewend sal word om 'n netbalbaan en krieketveld aan te lê, asook om 'n stadion en ablusiegeriewe te bou.
Volgens Riddles is die projek reeds in 2016 ter tafel gelê en is dit eindelik in 2017 goedgekeur. Die voorbereidingswerk behoort reeds binne die volgende week 'n aanvang te neem en die geskatte tyd om dit af te handel, word op ongeveer ses maande beraam.
"Die munisipaliteit sal verantwoordelik wees vir herstel- en instandhoudingswerk, maar ons wil 'n pleidooi aan die inwoners rig om eienaarskap te neem sodra die stadion voltooi is om dit te onderhou en toe te sien dat dit nie vandaliseer word nie," het hy gevra.
Enige sportgebeure by die twee sportgronde sal op ys gesit word tot en met die projek voltooi is.
Rdl Tinus van den Berg, Grant Riddles (uitvoerende burgemeester), Werner Manho (direkteur: tegniese dienste), rdl Ben Smith, Shahida Kennedy, rdl Gerald Boezak en Andrew Stroebel (speaker) staan voor die groepie wat die verrigtinge bygewoon het. Foto: Wilma Adamson
Rdl Tinus van den Berg, Grant Riddles (uitvoerende burgemeester), Werner Manho (direkteur: tegniese dienste), rdl Ben Smith, Shahida Kennedy, rdl Gerald Boezak en Andrew Stroebel (speaker) staan voor die groepie wat die verrigtinge bygewoon het. Foto: Wilma Adamson
Vorige artikel: Eerste sooie word gespit
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'