Update
RIVERSDAL NUUS - Ten spyte van die versengende hitte Saterdag 4 November het die A1 span van Eden-distrik uitstekende jukskei gegooi en gevolglik heel bo aan die punteleer geëindig.
Hul naaste teenstander, WP A1 het 11 punte agter hulle in die tweede plek geëindig.
Die vier distrikte, naamlik Eden, Kaap Wynland (KW), Overberg en WP is goed verteenwoordig.
Daar is in vier afdelings meegeding, met inskrywings deur al die distrikte in die A, B, C en D kompetisies.
In die B-afdeling het Kaap Wynland B2 met 56 ½ punte eerste geëindig, met Kaap Wynland B1 in die tweede plek met 50 punte.
In die C-afdeling was die wedywering ewe straf.
Eden C1 eindig eerste met 88 punte, WP C met 83 ½ punte in die tweede plek en Overberg C derde met 75 punte.
In die D-afdeling was die kompetisie selfs strawwer met 'n klein punteverskil tussen die eerste drie spanne.
WP D was eerste (69) punte; Overberg D2 met 64 punte tweede en Overberg D1 derde met 57 ½ punte.
In die geheel gesien was dit 'n uitstaande jukskeidag en is uitmuntende goeie jukskeihoue opgedis.
In die A-afdeling het agt spanne mekaar die stryd aangesê. In die B-afdeling het sewe spanne kragte gemeet en in die C-afdeling ses spanne.
Al vier distrikte was goed verteenwoordig tydens die toernooi.
Die D-afdeling met vier spanne het die wa deur die drif probeer trek. In totaal was die verteenwoordigende spelers dus 100 wat meegeding het.
As in gedagte gehou word dat slegs vier spelers 'n span vorm, was daar 25 spanne in aksie.
Op sigself is dit 'n uitstaande prestasie in hierdie sportsoort. Na afloop van die uiters geslaagde toernooi is die eerste drie spanne in elke afdeling met goud, silwer en brons medaljes beloon.
Die harde uitputtende spel in drukkende hitte was dus die moeite en opoffering werd.
Finale uitslae:
A-afdeling
Eden A1 (72), WP A1 (61), Overberg A (59), Kaap Wynland A1 (55 ½), Eden A2 (45 ½), KW A3 (45), WP A2 (43 ½) en KW A2 (38 ½).
B-afdeling
KW B2 (56 ½), KW B1 (50), Eden B1 (45 ½), WP B (45 ½), Eden B2 (43 ½), Overberg B (42) en KW B3 (26 ½).
C-afdeling
Eden C1 (88), WP C (83 ½), Overberg C (75), Eden C2 (70), KW C1 (61 ½) en KW C2 (59 ½).
D-afdeling
WP D (69), Overberg D2 (64), Overberg D1 (57 ½) en Eden D (53).
Die Gielie Wessels Trips toernooi vind Saterdag 11 November weer op Riversdal plaas.
Dit beloof 'n strawwe wedywering te wees, aangesien slegs drie spelers per span meeding. Die opening is om 08:00.
Lees 'n vorige artikel: Eden oorheers interdistrik jukskei toernooi
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'