STILBAAI NUUS - Verskeie dwelmsmokkelaars is Donderdagoggend, 14 Desember, nog in hulle beddens verras tydens 'n geïntegreerde operasie onder leiding van die stasiebevelvoerder, kapt. Johan van Tonder in samewerking met verskeie eenhede en lede van naburige polisiestasies.
Arrestasies tydens die operasie was die gevolg van maande se infiltrasie en dwelmtransaksies met die betrokke individue.
Die ondersoekbeamptes, sers. James Spannenberg van Mosselbaai K9, sowel as konst. Christiaan Zwiegelaar van Stilbaai het uitstekende ondersoekwerk gedoen en onder leiding van Herman Steyn, senior advokaat verbonde aan die direktoraat van openbare vervolging 'n sterk saak vir die staatsaanklaer voorberei.
Agt persone is op Melkhoutfontein gearresteer vir die handeldryf in dwelms en beslag is op tik en dagga gelê.
André Cloete, Brendon Smith, Heinrich Kleinhans, Jason Smit, Liz-Marie van Wyk, Morné Nel, Tom du Plooy en Tonia Richards het Maandag 18 Desember op Riversdal in die hof verskyn en is tans in aanhouding.
Hulle sal eersdaags voor die hof verskyn vir 'n borgtogaansoek. Die staat is van voorneme om dit borgtog te opponeer.
"Dwelms rig geweldige skade in ons onderskeie gemeenskappe aan. Dwelmmisbruik lei tot die pleging van misdaad en smokkelhuise dien in baie gevalle as afsetgebied vir gesteelde eiendom, waar dit verruil word vir dwelms," sê Van Tonder.
Heinrich Kleinhans, Jason Smit en Tom du Plooy
André Cloete, Liz-Marie van Wyk en Morne Nel
Tonia Richards en Brendon Smith
"Misbruik van dwelms verwoes die familiestruktuur en lei tot maatskaplike verval. Dit het ook gesondheidsrisko's.
"Dit het al voorgekom dat meisies wat tik tydens swangerskap gebruik, se babas met abnormaliteite gebore word.
"Dwelmmisbruik bly vir Stilbaai-polisie 'n prioriteit. Die afgelope jaar het ons ook ons fokus op dwelms verskerp.
"Die handeldryf van enige dwelms is 'n baie ernstige misdryf en kan lang tydperke gevangenisstraf tot gevolg hê."
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'