RIVERSDAL NUUS - 'n Klein hoeveelheid dwelms wat in 'n voertuig gevind is, kan die punt van 'n groot ysberg wees.
Volgens die bevelvoerder van die plaaslike polisie, lt.kol. Delicia Isaacs, het verkeersbeamptes op Vrydagoggend 13 Desember 'n stilstaande voertuig langs die N2 opgemerk.
"Die beamptes was besig met die amptelike verwelkoming van motoriste wat vanaf 10:00 die oggend net buite die dorp plaasgevind het. 'n Voertuig wat brood aflewer het, het voor die padblokkade van die pad afgetrek en die bestuurder het beweer die motor het onklaar geraak."
By nadere ondersoek het die beamptes 'n klein hoeveelheid dwelms in die voertuig gevind. Die motorbestuurder wat in Riversdal werk, maar van Bishop Lavis in Kaapstad afkomstig is, is gearresteer.
Isaacs sê die polisie is met 'n hele aantal dwelmoptredes besig en dié arrestasie mag dalk net 'n blokkie in 'n groot legkaart wees.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'