STILBAAI NUUS - Die gewoonlik rustige kusdorpie Stilbaai is aan die gons oor die duin by Moquini-strand wat platgestoot word.
Dis veral op Facebook waar ontstoke inwoners behoorlik hul monde uitgespoel en selfs gal gebraak het. Liesl Durand het gesê dat dit glad nie lyk na rehabilitasie nie - iets wat Lindra Gildenhuys beaam het.
Iemand het blykbaar ook die Groen Valke gekontak om kapsie te maak.
Dit is egter glad nie 'n kwessie van dat iemand net eendag besluit het dat hierdie spesifieke duin in die pad is en dat hy platgestoot moet word nie.
William Howard, huidige voorsitter van die Moquini Beach -huiseienaarsvereniging, het die situasie aan Suid-Kaap Forum verduidelik.
Die huiseienaarsvereniging is deur die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning aangekla aangesien hulle, volgens die departement, nie behoorlik na die duine omgesien het nie.
Dit impliseer 'n boete van R10 000 000 of tien jaar tronkstraf vir die vereniging en individue.
Hulle het sestig dae gehad om hieraan te voldoen, maar het uitstel gevra en kundiges aangestel wat 'n behoorlike impakstudie gedoen het, waarna 'n duine bestuursplan deur hulle opgestel is.
Die kontrakteur is reeds besig om vragte houtskaafsels aan te ry vir die rehabilitasie van die duin.
Hierdie bestuursplan is goedgekeur deur die departement van omgewingsake en ontwikkelings-beplanning en die duine vanaf Lappiesbaai tot by Preekstoel word hiervolgens bestuur.
Dit is 'n deeglike en omvattende dokument van 105 bladsye en is op die internet beskikbaar.
In kort verduidelik hierdie dokument wat gedoen mag word en wat nie en die Moquini Beach-huiseienaarsvereniging moet aan die vereistes voldoen. Onder andere moet hulle die duine onderhou volgens die goedgekeurde standaarde en as hulle nie hieraan voldoen nie sal hulle 'n boete, soos hierbo uiteengesit, opgelê word.
Strandgangers loop paadjies uit in die duine en dit veroorsaak "blowholes." Die wind van die see se kant af stoot sand teen die duine op en uiteindelik sal dit in Helene Steynweg beland. Die huiseienaarsvereniging moes noodgedwonge geweldige kostes aangaan om die duin net weer tot op die regte hoogte te bring.
Dit is ongeveer 'n 200 meter stuk duin en nadat die werk voltooi is, sal bekommerdes kan sien dat dit dieselfde hoogte is as die duine aan weerskante daarvan.
Groot masjinerie besig om die duin by Moquini Beach laer te maak. Foto: Johan Victor
Die kontrakteur is ook opdrag gegee om die hele strook met houtskaafsels te bedek.
Die plantegroei op daardie duine is meestal rooipitjie, 'n indringerplant, en dit sal baie vinnig weer daar opskiet.
Stilbaai kan rustig gaan slaap met die wete dat die Moquini Beach-huiseienaarsvereniging hierdie projek wetenskaplik en volgens voorskrif benader en dit is ongelukkig iets wat hulle verplig word om te doen.
Die departement van omgewingsake van George asook Hessequa-munisipaliteit se departement omgewingsake het Woensdag 19 Julie 'n terreinbesoek aan Moquini-strand gebring om hulle van die pogongs te vergewis om die duin te rehabiliteer en hul tevredenheid uitgespreek met die werk wat reeds gedoen is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’