HESSEQUA NUUS - Leerders het nou geleentheid om met hul talente te woeker sodat Afrikaans.com hul kan help om 'n stappie nader te kom om hul drome waar te maak.
Die #droomgroot17-kompetisie vir graad 8 tot 12-leerders het op 1 Julie afgeskop. Leerders het tot 30 September kans om deel te neem. Afrikaans.com gaan boonop R10 000 beskikbaar stel om die wenner se droom te bewaarheid.
So werk dit
Graad 8- tot 12-leerders (tweede- en derdetaal Afrikaanssprekers welkom) kan met die hutsmerk #droomgroot17 op sosiale media (Facebook/Instagram/Twitter) deelneem deur 'n video te maak waarin hulle in Afrikaans op 'n kreatiewe manier spog met hulle talente. Die video moet dan opgelaai word.
Onthou net om Afrikaans.com in die pos te 'tag'. Leerders kan 'n gedig lees, 'n liedjie sing, hul beste danspassies uithaal, kletsrym of hulle stories vertel.
Hoe die wenner bepaal sal word
'n Paneel kies drie uitstaande inskrywings en die finaliste sal dan gevra word hoe hul die R10 000 gaan gebruik om 'n stappie nader aan hul droom te kom.
Die algehele wenner kry die kans om te kies wat die prys moet wees - 'n kitaar, 'n rekenaar, 'n kort musiek- of skryfkursus en dies meer waarna Afrikaans.com die geld beskikbaar stel en namens die wenner spandeer. Gaan na http://www.afrikaans.com/wen/heeltyd-speeltyd/wen/kompetisiereels om die kompetisiereëls te lees.
Afrikaans.com se muurkunsprojek by skole
By Afrikaans.com glo hulle dat inspirasie tot aspirasie lei en elk identiteit van wie hul is en hoe hul hulself uitdruk, 'n trots en eiewaarde skep. Daarom het hulle ook vanjaar baie spesifieke gemeenskapsprojekte waardeur hulle veral skoolleerders deur visuele muurkuns wil inspireer.
Met die Afrikaans.com-muurkunsprojek poog hulle om deur kleurvolle muurskilderye wat binne die gemeenskap se konteks verstaan word, die lekker en mooi van Afrikaans op skool uit te lig.
Wat behels die muurkunsprojek by die skole?
Die Afrikaans.com-span gaan een muur by elk van die deelnemende laer- en hoërskole verf en die veldtog met foto's en videomateriaal op sosiale media aktiveer.
Die hoërskoolmuurkuns sluit aan by die #droomgroot17-kompetisie en hoërskoolleerders van daardie skole word ook genooi om aan die #droomgroot17-kompetisie op sosiale media deel te neem. Die #droomgroot17-kompetisie is egter nie net tot hierdie skole beperk nie en is oop vir alle hoërskoolleerders regoor Suid-Afrika.
By laerskole woeker die muurkuns met woorde wat lees en verbeelding aanmoedig en word leerders aangemoedig om Afrikaans met passie en oorgawe te geniet en te gebruik.
Die muurkuns het ook ten doel om trots in hul skool en taal te kweek. Tydens die onthulling van die muurkuns kry
leerders die geleentheid om van hul talente ten toon te stel en die wenklas by elk van die deelnemende laerskole kry dan 'n biblioteek in 'n boks.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'