Hierdie historiese eiendom is reeds op 6 September 1996 as monument verklaar. In 2008 is die restourasie van die Doornboom Opstal in Fouriestraat voltooi in sy oorspronklike styl en bouvorm, maar daar was destyds nie meer van die embleme beskikbaar nie.
Met die hulp van Martiens van Bart, voormalige redakteur van Kultuurkroniek, is die gietvorm van die embleem opgespoor. 'n Bekende pottebakker van Bellville het ingewillig om dit te giet en te glasuur.
Die ou plaaswoning is die oudste bestaande gebou op die dorp, aangesien dit die oorspronklike plaasopstal van die plaas Doornboom aan die Duiwenhoksrivier is. Volgens navorsing dateer die kleigebou met rietdak terug tot 1728. Die weidingsregte van die plaas was eerste toegeken in 1725 aan Andries Gous.
Vanaf 1733 is die regte geregistreer aan die jonge Louis Fourie II, seun van die Hugenoot immigrant Louis Fourie I van Slangrivier by Wellington. Die Fourie-familie het in die huis gewoon vir 151 jaar tot 1876. Die huis was van die vroegste tye af 'n informele herberg vir talle reisigers, insluitende bekendes soos goewerneur Van Plettenberg, John Jacob Gordon, John Barrow, Thunberg en Sparrmann, Lady Anne Barnard en later generaal Jansens.
Hulle het by die Fouries verpoos voor of nadat hul die drif deur die rivier aangedurf het.
Historiese waarde
In September 1855 tydens 'n vergadering in die opstal het 16 lede van die NG Kerk wat 'n gemeente wou stig, aan Louis Fourie V die som van 5 000 pond gewaarborg as koopsom vir die stigting van 'n dorp rondom hierdie huis op die westelike oewer van die Duiwenhoksrivier.
Die veiling van die dorpserwe op 22 November daardie jaar was so 'n reusesukses dat die 16 onderskrywers se fondse nie nodig was nie. 'n Roostuin is rondom die opstal gevestig wat oop is vir besigtiging. Tans word die historiese gebou en tuin aangewend deur die gemeenskap as lokaal vir funksies, huwelike en ander vieringe.
Na wete is die enigste drie ander geboue wat amptelik as monumente geproklameer is in die Heidelbergdistrik, die plaasopstal van Grootvadersbos, die plaasopstal van Krombeksrivier en die NG Kerk se kerkgebou op die dorp.

Die embleem van die Nasionale Raad van Gedenkwaardighede.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'