Gallery
ALBERTINIA NUUS - Die streek het nog nie eens behoorlik herstel van die skade wat die verwoestende brand verlede jaar hierdie tyd aangerig het nie, of 2018 begin op dieselfde noot met brande in Kaapstad, Botrivier, Caledon, Ruitersbos, Mooihoek, Swellendam, Riversdal, Albertinia, Van Wyksdorp, Mosselbaai en vele ander plekke.
Die droogte en waterskaarste is besig om sy tol te eis. Warm weerstoestande, met 42° op Riversdal verlede Donderdag 11 Januarie, en die droë omgewing bemoeilik nooddienste se werk.
"Dit gebeur met ander mense, nie met ons nie," is die hartverskeurende woorde van Ria Thornley aan Suid-Kaap Forum nadat hulle huis op hul plaas Rietfontein deur vlamme verswelg is.
Haar skoonouers, John en Elize Thornley se huis langsaan het groot skade opgedoen toe die boonste verdieping vlam gevat het.
Haar eggenoot, Clarence, was buite op die plaas besig om te probeer red wat gered kon word en was gelukkig nie in die huis toe dit begin brand het nie.
Ria was in daardie stadium op Riversdal.
"Ons skape en hoenders het gevlug en is nêrens te sien nie. Ons kan net hoop dat hulle die brand vrygespring het en sal terugkeer," het Ria ontsteld gesê.
Volgens haar het die skok van alles nog nie behoorlik ingesink nie.
"My skoonma het vroeër laat weet dat die brand redelik onder beheer is, maar 'n sterk wind het dit aangeblaas en om ongeveer 16:00 het sy my geskakel om te sê ons huis brand."
Die toegeboude strooidaklapa met braaiplek en toerusting het ook afgebrand.
Die Thornleys se huise is nie die enigste wat in die slag gebly het nie.
Die brand wat aan die begin van verlede week in die streek ontstaan het, is steeds nie geblus nie hoewel hulle besig is om dit onder beheer te kry, aldus Freddy Thaver, brandweerhoof van Eden-distriksmunisipaliteit (EDM).
Die oorblyfsels van die Thornleys se eens pragtige huis.
Die sagte reën gister in die Hessequa-streek help beslis, maar volgens hom kan weerstoestande vinnig verander.
'n Gesamentlike poging van EDM, Hessequa, George, Ladismith, Riversdal, CapeNature, Suid-Afrikaanse BBV en 'n plaaslike, asook Oos-Kaap Working on Fire-span met lugsteun (helikopters) word aangewend om die brande onder beheer te kry.
Tot dusver is altesaam 200 brandbestryders ontplooi, met uitstekende samewerking tussen belanghebbendes, insluitend die betrokke grondeienaars.
Teen Maandag 15 Januarie om ongeveer 16:30 was die brand aan die suidelike deel van die berg op Albertinia feitlik geblus as gevolg van 'n misreën en dit is gemonitor, sou daar enige opflikkering wees.
Langkloof was steeds aktief, ten spyte van die ligte reën. Die vuur aan die noordelike kant van die berg het nog gesmeul, maar geen oop vlamme was sigbaar nie.
Die totale gebied op Albertinia wat deur die brand geaffekteer is, beloop 27 000 hektaar.
Die brand het Maandag oor 'n gebied van 30 km x 10 km in 'n bergagtige gebied gestrek.
Bewerings dat dit ontstaan het op 'n plaas op Riversdal deur 'n grondeienaar wat onwettig 'n beheerde brand op sy plaas uitgevoer het, is blykbaar nie waar nie.
Volgens Loren George, woordvoerder en aanlynbestuurder: CapeNature word die ontstekingspunt en die bron van die brand tans ondersoek.
"Die publiek word aangemoedig om ekstra voorsorg te tref aangesien uiters warm weer voortduur wat bevorderlik is vir die verspreiding van brande."
• Kontak die EDM se noodnommer by 044 805 5071 om alle brande in die omgewing aan te meld.
Lees 'n verwante artikel | Latest update: Eden District fires
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'