STILBAAI NUUS - Stilbaai-bewaringstrust het onlangs die beboste gedeelte bokant Skulpiesbaai getakel in hul stryd teen indringerplante.
Hulle het spesifiek gekonsentreer op die uitroei van rooikrans en manatok (myoporum tenuifolium) en gewapen met sae, grawe en gif het hulle die bosse ingevaar. Dit was duidelik: dié manne is beslis nie bang vir slange nie.
Alhoewel die Skulpiesbaai-natuurreservaat onder die Hessequa-munisipaliteit val, het hulle eenvoudig nie genoeg kapasiteit om hierdie taak op hulle eie aan te pak nie en daarom het die klomp inwoners hande gevat met die Stilbaai-bewaringstrust om hulle te help.
Hulle help ook met die voorsiening van die jel wat gebruik word om seker te maak die stompe loop nie weer uit nie.
Dr. Deon Begeman, voorsitter van die Stilbaai-bewaringstrust, het ook sommer van die geleentheid gebruik gemaak om bietjie te gesels oor die uitroei van salmonella en ander plae.
Twee natuurbewaringstudente van die Universiteit Mpumalanga, Fortune Mancoba Nkosi en Alex Menelisi Nkosi, doen hulle prakties hier in Stilbaai en is by Palinggat gestasioneer om spesifiek meer te wete te kom van palings. Hulle het ook Saterdag met die uitroeiaksie gehelp.
Hierdie vrywillige inisiatief van die Bewaringstrust is baie belangrik juis omdat indringerplante ander inheemse plante uitdruk en versmoor.
Daarom doen dr. Begeman en die Bewaringstrust 'n beroep op inwoners om betrokke te raak en te help met die beskerming van Stilbaai se inheemse plantegroei.
Vir meer inligting kan jy vir dr. Begeman bel by 082 440 7910.
Inwoners en lede van die Stilbaai-bewaringstrust het Saterdag 10 September die beboste gedeelte bokant Skulpiesbaai getakel in hulle stryd teen indringerplante. Die helpers is van links: Quintus Schumann, Fortune Nkosi, Alex Nkosi, George Sabbagha, dr. Deon Begeman, Ugo Hiddema en Johan van Staden.
Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'