Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Dis die woorde van Werner du Toit van televisie-kokkedoorfaam oor die derde Hessequa Heritage-fees wat op Saterdag 21 September op dié dorp gehou is.
Benewens 'n braaibroodjiekompetisie waarvan Du Toit een van die beoordelaars was het die dag se program ook twee pretwedlope, die brood- en beskuitfees, boeresport en stalletjies by die geskiedkundige opstal waar die Stilbaai-toerismeburo gehuisves word, ingesluit.
Inwoners en besoekers het al van vroeg af die vrolike musiek en saamkuier geniet terwyl deelnemers aan die vyf en 12 km-wedlope een vir een dankbaar by die eindpunt aangekom het.
Die reuk van braaivure het dik in die lug gehang en gesinne en vriende het ingehaal op verlore kuiers. Die gebak en lekkernye op uitstalling het een meer watertand as die ander gelyk en daar is fluks sake gedoen.
Die braaibroodjies wat 09:00 onder die wakende oë van die drie beoordelaars by Jagersbosch voorberei is, is 10:00 op die kole gesit en dié verleidelike geure het die atmosfeer nog feesteliker gemaak. Carmen Niehaus wat in die televisieprogram 'Jy het 'n wenresep' bekend geword het was die hoofbeoordelaar. Sy is bygestaan deur Du Toit en Kassie Kasselman van Kasselshoop. Hulle moes lelik kopkrap en mooi proe, maar uiteindelik is Estelle Vorster as die wenner aangewys.
Leon Adams wat uiteindelik tweede in die 16 km-wedloop gekom het was na vier kilometer nog voor, met die wenner Wayden Lombela op sy hakke. Foto: Richard Webb
Die twee Heritage-wedlope wat kuslangs tussen Jongensfontein en Stilbaai plaasgevind het, het vanjaar meer as 200 inskrywings gelok. Die mansafdeling van die 16 km-wedloop is deur Wayden Lombela van Riversdal gewen terwyl Annalie Heyns, ook van Riversdal, die eerste dame by die eindpunt was.
Kyk 'n video hieronder:
Die mini-wedloop wat oor 5 km gestrek het is deur Cornel Rautenbach, 'n leerder van Laerskool Bertie Barnard gewen. Volgens die organiseerder, Elza Thiart-Botes, was die jongste deelnemer slegs vier jaar oud (behalwe vir die brawe pa met sy baba in 'n stootwaentjie) terwyl heelwat 70-plussers ook die pret meegemaak het.
Van links: Kassie Kasselman, Alwyn Vorster, Estelle Vorster, Carmen Niehaus en Werner du Toit. Foto: Luminescence Productions
Die alombekende palings het nie vergete gebly nie en hulle het 11:00 onder groot belangstelling hul maaltyd van hoenderlewers ontvang.
Residents of Stilbaai and many visitors enjoyed a fun-filled Hessequa Heritage festival at the tourism bureau on Saturday 21 September. Participants in the two trail runs finished at the bureau amid the smells of braai fires and delicious bread and other baked goodies.
Stilbaaiers het Erfenisweek met groot feestelikheid ingelui. Foto: Deona Aucamp
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'