RIVERSDAL NUUS - As 'n buitestander jou vertel hengel is net 'n geluk as jy iets vang, sal Emile van Druten van Riversdal jou mooi reghelp.
Dié gr. 9-leerder van die Hoër Landbouskool Oakdale weet waarvan hy praat, want hy het vroeër vanjaar sy junior Protea-kleure in kunsaashengel verwerf. En dit was ook nie 'n gelukskoot nie, skerts hy.
"My pa het my geleer geluk is die oomblik waar geleentheid en voorbereiding mekaar ontmoet. Dis wat hengel van jou af verg as jy sukses wil behaal."
Emile is al 10 jaar lid van die Suid-Afrikaanse Hengel Vereniging (SAALAA).
SAALAA val onder die jurisdiksie van SASCOC en is geaffilieer met FIBSed, die internasionale hengelfederasie wat die jaarlikse wêreld-hengelkampioenskap en die vierjaarlikse wêreldspele organiseer. SAALAA neem ook deel aan die Zone 6-
toernooi waar lande in die suidelike halfrond teen mekaar meeding op 'n jaarlikse basis en die beste hengelaars hier word gereeld gekies om Suid-Afrika op wêreldvlak te gaan verteenwoordig.
Kunsaashengel, soos Emile dit gedefinieer, is 'n multidissiplinêre hengelapplikasie waar verskeie hengelmetodes gebruik word om 'n verskeidenheid visspesies binne 'n sekere tydsbestek te vang. Daar is geen beperking op die tipe visspesie wat gevang kan word nie en hengelaars mag in varswater of seewater visvang.
Emile sê in 2023 het hy die groot voorreg gehad om as die beste buitesport-kandidaat by Oakdale verkies te kon word.
Die erkenning kom nadat hy vir die junior Protea-span gekies is wat in Augustus vanjaar aan 'n internasionale kompetisie in Zambië deelgeneem. Die Proteas het 'n derde plek daar behaal.
Emile vertel hoe die junior Protea-span by die kompetisie met kunsaas 'n ongelooflike 18 spesies -15 van elke spesie oor 'n tydperk van drie dae - op die magtige Kafue-rivier in die middel van Zambië moes vang en weeg.
Hy sê dis ongelooflik watse tegnologie deesdae gebruik. Só word visse wat gevang word op die boot gemeet, met 'n videokamera vasgevang en dan vrygelaat. Die hele proses word vasgevang op 'n hengeltoep, Keepnet, wat alle vangste deurvoer na 'n sentrale databasis vanwaar die punte verwerk word.
Emile beklemtoon ook dat streng reëls geld, juis om visspesies in die natuur te beskerm, en daarom word visse nie seer- of doodgemaak nie en word hulle weer teruggeplaas in die water waar daar gevang word.
Emile sê hy bly baie dankbaar en nederig oor die voorreg en erkenning van sy skool en meld dat hy graag die sport sal wil sien groei onder jong hengelaars in die Hessequa-streek.
Hy is ook baie lief vir ontspanningshengel. Dan is dit tyd saam met sy pa, ook Emile, en suster Rome, wat ook provinsiale kleure in kunsaashengel verwerf het, om op die klippe of die strand te gaan staan. Hulle gaan ook gereeld uit met 'n bootjie op die omliggende riviere en sal so af en toe 'n lekker elf of kabeljou hou vir die kole.
Emile van Druten, 'n gr. 9-leerder van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, het vroeër vanjaar sy junior Protea-kleure in kunsaashengel verwerf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’