RIVERSDAL NUUS - Vleis, vis en ander bestanddele wat inwoners van Aloeridge tydens die vierde week van inperking moes kosgee, is uit 'n sopkombuis gesteel.
Lt.kol. Delecia Isaacs, stasie-bevelvoerder van die plaaslike polisiekantoor het die voorval bevestig. "Die inbraak het tussen 16:00 op Saterdag 25 April en 07:00 op Sondag 26 April plaasgevind. Die deur is oopforseer en kos ter waarde van R2 000 is gesteel."
"Ons kon huil toe ons vanoggend hier kom en sien die kos is weg," het Mariam Fielies, hoof van Bollie Konyn-kleuterskool waar een van drie sopkombuise wat inwoners van wyk 8 voed, ingerig is, Sondagoggend gesê.
Volgens haar verskaf hulle sewe dae per week kos aan sowat 400 inwoners wat weens die inperkingsmaatreëls nie werk of 'n inkomste het nie. "Ons gee ook drie maal per week vir ons 90 kleuters kos."
Chris Taute, wyksraadslid het Sondag op sy Facebook-bladsy geskryf: "Die diewe het al die bevrore vleis, hoenderdye, -boudjies en -nekkies vir die komende week gesteel, asook die lekker vars vis wat ons gister as skenking gekry het! Die diewe het toegang gekry deur die voorste deur oop te breek en die kratte met ons voorraad daar uit te dra."
Hy versoek die gemeenskap om inligting te verskaf: "Ek is seker van ons mense weet wie die diewe is. Ek is ook seker hierdie vleis en vis sal vir dwelms geruil of verkoop word. Gee vir ons inligting sodat hierdie diewe, wat van mense wat swaarkry steel, gevang kan word."
Volgens hom is besluit om voortaan nie kos aan jongmense wat aan dwelms verslaaf is te voorsien nie. Diegene wat oor die kos wat voorberei is kla, sal ook nie meer gevoed word nie. Sowat 1 300 inwoners in wyk 8 word daagliks by drie geregistreerde sopkombuise gevoed.
Taute het die vrywilligers wat van soggens 06:00 af by al drie sopkombuise help om kos te maak vir die ondankbare werk wat hulle so onbaatsugtig doen, bedank. "Nie een van hulle ontvang 'n salaris nie. Beledigings en ondankbare gedrag van een of twee inwoners is onaanvaarbaar. Baie dankie aan ons inwoners wat waardeer wat vir ons mense in hierdie moeilike tyd gedoen word."
Een verdagte is in hegtenis geneem, het konst. Venia Daries Dinsdag gesê.
Die vars vis is ook gebuit.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'