Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Wat kan 80 swart vullissakke vol plastiekdoppies werd wees? Met 'n gewig van 450kg kan dié herwinning bydra tot die verkryging van 'n rolstoel.
Daardie wiele pronk nou by die Droom-dienssentrum wat die tehuise, Jan Lange en Ou Meule se bejaardes bedien.
Dit het alles 'n paar jaar gelede begin met die sogenaamde Doppieproppie-projek, wat destyds deur die Vroue Landbouvereniging van stapel gestuur is en daaruit aan Droom 'n rolstoel verskaf het.
Retha Benadé, die sosiale kreatiwiteitskoördineerder by Droom het die projek twee jaar terug oorgeneem. Almal, insluitend die inwoners van die tehuise, dorpenaars en vriende van selfs uit die Kaap, het van heinde en ver proppies en doppies bymekaargemaak.
Fotogalery: Nuwe rolstoel vir Droom
Die projek is aanvanklik deur die herwinningsmaatskappy Interwaste in George gedryf, maar moes weens Covid-19-uitdagings gestaak word. Dit is toe deur die sakevrou Debbie van Rensburg en haar dogter, Talia oorgeneem. Talia is 'n graad 7-leerder aan George-Suid. Sy doen haar gemeenskapsdiens met die naam Have a Heart-projekte. Danksy hulle toegewydheid en flinkheid en die hulp van Henque Waste kon Droom vinniger as wat verwag is, 'n rolstoel bekom.
Kyk 'n video hieronder:
"Rolstoele is goud werd vir tehuise en bied aan die inwoners ondersteunende mobiliteit. Dié herwinningsprojek dra tot R2 000 aan die koste van een rolstoel by. Ons is geseënd met en dankbaar vir ons bejaardes se splinternuwe wiele," sê suster Linda Botha, hoofverpleegkundige by Droom. Sy beywer haar al 16 jaar lank vir die welstand van bejaardes.
"Dié projek dien ook 'n ekstra doel, want dit verwyder plastiek uit die natuur en verseker 'n netjiese omgewing."
Op 'n ligter noot skerts Retha: "Ek het nou al 'n doppie-probleem ontwikkel. Want, as ek met die honde gaan stap of fietsry en ek sien 'n proppie, stop ek en tel dit op. Ek sukkel soms om fiets te ry, want ek moet myself bedwing om nie te wil stop en 'n proppie op te tel nie. 'n Mens raak soms so gefokus op 'n proppie en ek dink dit is nie altyd 'n goeie ding nie."
• Mense is welkom om plastiekdoppies en proppies, klein en groot, te herwin, skoon te was en by die Droom-dienssentrum af te laai.
Alte trots op die nuwe "wiele" wat deur Droom ontvang is - (van links) suster Lillien de Jager, Debbie en Talia van Rensburg, suster Linda Botha, Staffie Ponto, suster Unita van Niekerk en Retha Benadé. Foto: Christiaan de Swardt
Vorige artikel: Nuwe 'wiele' vir tehuis
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'