Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Suid-Kaap Forum het verlede week oor van Melkhoutfontein Primêre skool se leerders berig wat eersdaags in 'n verhoogproduksie in die Baxter-teater in Kaapstad gaan optree.
Drie volwassenes van dié dorpie buite Stilbaai sal ook in die produksie, As die see byt te siene wees.
Die Melkhoutfonteiners het verlede jaar die tragedie herleef toe die see-drama van die Wafra-vissersboot in dramavorm vir hulle aangebied was.
Peter-John Davids as regiseur het ook deur middel van die drama, die sosiale en ekonomiese sy van die gemeenskap van Melkhoutfontein aangespreek.
Nou is die groep hard besig om die stuk vir die Baxter voor te berei. Drie bekende akteurs is ook nou aan boord, naamlik Abduraghman Adams (Ian October in Suidooster), Lynelle Kenned, bekende sangeres en Brendon Daniels (speurder Krige in Arendsvlei).
Vir drie grootmense van die dorpie is hierdie 'n gulde geleentheid om die verhoogkuns beter te leer ken. Vir Vrede Michaels is dit 'n droom wat bewaarheid word.
"Ek lees graag en ek kyk al wat sepie en kortfilm is op televisie. Dan droom ek hoe ek die rol in daardie situasie sou gespeel het, en hoe ek in so 'n situasie sou opgetree het. Nou het ek die kans."
Nou is sy besig om saam met die hele groep in die Baxter vir die openingsaand te oefen.
Patrick Michaels is 'n visserman wat natuurlik help om die tegniese aspekte van visvang van 'n boot af te behartig. Chistel Conradie vertolk die rol van 'n visserman se vrou, Mary-Ann en Vrede vertolk die rol van Amanda, wat die nuus van die ongeluk vroeg die oggend moes aanhoor.
Die wrak van die Wafra is intussen gerestoureer en is op die Stilbaai-hawe, net langsaan die NSRI-gebou.
Die mense van Melkhoutfontein wag nou opgewonde om verdere besonderhede, soos wanneer die openingsaand gaan wees, asook kaartjiebesonderhede uit die Baxter te hoor.
Patrick Michaels as die visserman en Christel Conradie as sy vrou in die produksie.
Van die tonele word bespreek. Van links is Vrede Michaels, Brendon Daniels en Lynelle Kenned.
Vorige artikel: Verhoog wink ook vir hulle
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'