TUINROETE NUUS - As dinge volgens plan verloop, sal mense uiteindelik van Uniondale tot by Mosselbaai en vandaar tot by Kaap Agulhas kan stap as deel van die Pelgrimstog van Hoop.
Dit het onlangs bekend geword nadat die eerste formele groep stappers in Julie 'n roete van Uniondale tot by die St Blaize-ligtoring in Mosselbaai voltooi het.
Dit is baie gebaseer op die Camino de Compostela-staproete in die noorde van Spanje wat jaarliks groot getalle besoekers van oor die wêreld lok.
Die groep stappers het in Uniondale begin en hul staptog van Herold tot by die ou tolhuis aan die voet van die Montagupas by George voortgesit. Later die dag het hulle tot by Geelhoutboom gestap. Hulle was vir dié deel vergesel van belanghebbendes in die omgewing.
Ds Gert Nothnagel, leraar van die NGK Herold-gemeente, het gesê hulle is tevrede dat die eerste formele groep die staptog voltooi het. "Ons het aanbevelings van die groep ontvang en sal die nodige veranderings implementeer." Die totale afstand beloop meer as 260km en die plan is om ook korter opsies as die 14 dag roete aan te bied.
Dr Frederick Marais van Stellenbosch, wat in 2012 met die idee van pelgrimstogte in die Kaap begin het, het gesê daar is reeds twee ander roetes in die Kaap. Van Kaappunt tot by Kaap Agulhas en van Robertson tot by Kaap Agulhas.
Die deel van Uniondale tot by Mosselbaai is die eerste fase in die gebied.
In 2014 was hy betrokke by die eerste verkennende staptogte en later het die twee roetes tot stand gekom. Hy en ander belanghebbendes het hul kennis gedeel met die mense wat betrokke is by die roete in die Suid-Kaap. Dit is alles deel van die Pelgrimstog vir Hoop en 'n netwerk van pelgrimstogte in die Wes-Kaap wat almal eindig by die suidpunt van Afrika (Kaap Agulhas).
Die deel van Uniondale tot by Mosselbaai is die eerste fase in die gebied. Dit word in die vooruitsig gestel dat nog 'n fase van die roete sal loop van St Blaize tot by Kaap Agulhas as deel van die netwerk.
Theo Adams, gemeenskapsleier en ontwikkelaar van die Herold Meander, het gesê stappers sal 'n fisieke en geestelike vervulling uit die roete kry. Hy het van Herold tot by die ou tolhuis gestap. Die roete sal help met Agri-toerisme in die gebied en die plaaslike ekonomie stimuleer.
Vir meer inligting kontak Nothnagel (082 829 5407) of stuur 'n e-pos aan gardenroutewalk@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'