Update
STILBAAI NUUS - Die informele handelsektor in Suid-Afrika het nou eenmaal gekom om te bly.
Soms is dit gerieflik, maar dikwels is dit steurend en selfs onveilig.
Volgens Pieter Lategan, die hoofkoördineerder van buurtwagte in Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein, het Hessequa-munisipaliteit definitiewe riglyne neergelê waarbinne straatsmouse moet optree en die publiek moet hulself daarvan vergewis.
Die munisipale verordeninge maak nie voorsiening vir enige straatsmouse nie, hetsy rondreisend of te voet. Toegewings kan wel gemaak word om 'n tydelike rondreisende permit te bekom, mits skriftelik by die direkteur: gemeenskapsdienste aansoek gedoen en die aansoek goedgekeur word.
Die permit wat vir suksesvolle aansoekers uitgereik word, moet te alle tye by hulle wees en op aanvraag vertoon word. Belangrike bepalings van die permit is dat sodanige smouse nêrens mag stilhou om ware te verkoop nie.
Hulle mag ook nie verkopers wat vooruit van deur-tot-deur loop en by wonings aanklop, uitstuur nie. Hulle mag slegs in woongebiede rondry en geen eiendom of besigheid mag betree word om produkte te bemark nie.
Indien iemand 'n smous sonder permit, of 'n persoon wat die reëls van die permit oortree teëkom, moet dit aan Hessequa-wetstoepassing by 028 713 7917, of by die polisiekantoor en buurtwagte van die betrokke dorp aangemeld word.
Lees 'n vorige artikel hier: Moets en moenies vir straatsmouse
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'