STILBAAI NUUS - As jy bereid is om te luister, kan klippe jou die interessantste stories vertel.
Dit het duidelik uit die aanbiedinge tydens Hessequa-argeologiese vereniging se byeenkoms op Donderdag 5 Maart geblyk.
Die sprekers het die groot aantal toehoorders in die gemeenskapsaal vasgenael laat sit met inligting en beeldmateriaal oor die nuutste ontdekkinge in die Blombosgrot en ander sleutelgebiede in die geskiedenis van die moderne mens.
Prof. Christopher Henshilwood, dr. Elizabeth Velliky en marine-bioloog en filmmaker Craig Foster van die Centre for Early Sapiens Behaviour aan die universiteit van Bergen in Noorweë se kleurryke vertellings het duidelik gemaak waarom Afrika as die tuiste van alle hedendaagse mense beskou kan word.
Volgens Henshilwood spog die Blombosgrot met 'n paar eerstes in die geskiedenis.
Opgrawings het gewys dis die oudste bekende plek waar houers gebruik is om oker vir verf in te hou, die eerste plek waar verf gebruik is om iets te kleur, die oudste kunswerke en tekeninge asook juwele kom hier voor en dis ook die eerste plek waar 'n tegniek wat drukskilfering genoem word, gebruik is om spiespunte te maak.
Dié grot vorm saam met die Klipdriftskuiling in die De Hoop-natuurreservaat en Klasiesrivier in die Oos-Kaap belangrike argeologiese punte in die Cradle of Human Culture-roete.
Velliky het vanuit 'n gedragsoogpunt verduidelik waarom die ontwikkeling van simbole in bogenoemde drie plekke Afrika so uniek in die geskiedenis maak.
Die belang van marine-ekosisteme nie slegs in die ontwikkeling van die moderne mens nie, maar ook in sy voortbestaan, was die onderwerp van Foster se videos oor seediere en die kritieke belang van seebamboesbosse.
Dr. Elizabeth Velliky
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'