Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Goeie beplanning en samewerking het die gr. 7 en gr. 12's se terugkeer skoolbanke toe seepglad laat verloop.
Leerkragte by Hessequa se skole was slaggereed om op Maandag 1 Junie die leerders, met toepassing van die vereiste veiligheidsmaatreëls, terug te verwelkom.
Melkhoutfontein Primêr
Volgens Melkhoutfontein Primêr se prinsipaal, me Ruby Flores, was daar nogal onsekerheid veral by ouers of hulle wel die leerders skool toe moet stuur na die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, haar persverklaring op nasionale televisie vanaf Maandag 18:00 na Dinsdag 11:00 uitgestel het. Die Wes-Kaapse minister van onderwys het egter die versekering gegee dat dit wel voortgaan en het hulle die ouers per WhatsApp in kennis gestel.
Flores en haar personeel was gereed om die leerders te ontvang. Albei hekke wat toegang tot die skool verleen het, was beman. Die leerder se naam is op die lys afgemerk wanneer hy of sy opgedaag het, temperatuur is gemeet en die nodige vrae is gevra. Die nodige afstand wat tussen leerders gehandhaaf moet word, is ook duidelik op die grond afgemerk, maar so ook voor die klaskamer en in die vierkant waar die gr. 7's bymekaarkom voor hul na die klas verdaag. "Die leerders gaan vir twee dae eers oriënteringsklasse ontvang voor hulle met hul normale skoolwerk aangaan," het Flores verduidelik.
Selfs die personeel het nie vrygespring nie en is die nodige maatreëls, soos temperatuur meet en die vraelys aan hulle voorgehou. "Ons het baie hard gewerk om alles betyds gereed te kry, maar alles is nou in plek en verloop vlot soos 'n geoliede masjien," het Flores gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Laerskool Bertie Barnard
By Laerskool Bertie Barnard op Stilbaai is die aankoms van die 33 ingeskrewe gr. 7-leerders tussen 08:15 en 08:45 versprei. Die skoolhoof, mnr Nicky Deetlefs en 'n paar onderwysers het gesorg dat hulle die voorgeskrewe afstand van mekaar in 'n ry staan. Mnr Terick Mostert het almal se skoensole en tasse met reiniger afgespuit, waarna hul temperature by die hek geneem is en hulle op 'n naamlys afgemerk is. Kinders met hoë temperature sal eenkant wag vir 'n paar minute, voor dit weer gemeet word. As die temperatuur dan steeds hoog is, sal die kind dokter toe gestuur word.
Volgens Deetlefs gee hulle die leerders tans 'n keuse tussen skooldrag en gewone klere: "Die kinders moet elke dag skoon aangetrek wees en nie almal besit meer as een stel skoolklere nie."
Hoërskool Langenhoven
Estéa Venter, openbare betrekkinge-beampte van Hoërskool Langenhoven op Riversdal het aan Suid-Kaap Forum gesê dat die dag baie goed verloop het en dat hulle geen struikelblokke gehad het nie. "Meeste van ons leerders het opgedaag en Langenhoven is van die skole in die streek waar die meeste matrieks teenwoordig was. Die wat nie opgedaag het nie, het almal redes gehad."
De Waalville Primêr
Korrespondent Clive Pretorius berig dat opvoeders van dié skool Dinsdag 2 Junie besluit het om nie die klaskamers te betree om onderrig te gee nie. "Volgens hulle hou die hele perseel 'n gesondheidsrisiko vir hulle, asook die graad 7-leerders in omdat dit glo nie volgens regulasies behoorlik gesanitiseer is nie." Die skoonmakers moes blykbaar self die perseel met gewone skoonmaakmiddels ontsmet. Die prinsipaal wou nie die media op die perseel toelaat nie.
Kairos Senior Sekondêre skool
By hierdie skool het sake egter beter verloop en Maandag het 42 matriekleerders opgedaag en Dinsdag vyf uit die totaal van 52.
Slangrivier Primêr
Volgens die beheerraad voorsitter, JB Hoogbaard het Maandag sewe graad 7-leerders opgedaag en Dinsdag ses uit die totaal van 74 (2 klasse van 37).
Terwyl Catherine Saayman die leerder se naam op die lys afmerk, meet Gerald Kleinhans sy temperatuur en vra die nodige vrae. Foto: Wilma Adamson
Mnr Terick Mostert spuit 'n gr. 7-leerder se skoensole skoon. Foto: Deona Aucamp
Matriekleerders van Hoërskool Langenhoven staan getrou op die voorgeskrewe afgemerkte spasies.
• Kommentaar van die ander skole in die streek kon nie voor saktyd verkry word nie.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'