RIVERSDAL NUUS - Inwoners moet CARS (Riversdal Community Animal Rescue Society) daarvoor bedank, danksy dié vereniging se massasterilisasie verlede week by Riverville. CARS verrig die werk van ‘n dierebeskermingvereniging.
Dié jaarlikse projek is veral daarop gemik om ongesteriliseerde honde te verhinder om woerts-warts aan te teel.
Katte se gemaaiery, vleiery, geskreeu en kattestrofes is egter ‘n ander stoornis. Veral as jy die eienaar van verleidelike katwyfies is, wat kamstig onwillig tog te gretig is om geliefkoos en verrinneweer te word.
Boonop kan die enigste mannetjie (nog mét knaters!) op die erf nie sy ma en sussies teen belustige boelies beskerm nie...
Die storie ontvou so…
‘n Diereliefhebber het ‘n paar maande gelede oor ‘n versperring in Kerkstraat gestruikel, in ‘n sloot beland - en ongedeerd saam met ‘n verwaarloosde katjie aan die anderkant uitgekruip.
Sy vermoede was dat die katjie ‘n mannetjie was en hy het hom terstond Poenankies gedoop, want hy was pragtig...
Liggies nat gekwas en lekkerruik gepoeier vind Poenankies toe ‘n veilige omgee-tuiste. Maar, toe begin hy meteens vet raak en sy maag staan ‘n bol... Sy menspappa het hom met melkmagnesium en houtskoolpille gedokter... En, toe hy weer hoor, is daar ‘n gemiaau tussen die skadunet en sinkdak op sy patio: Poenankies, toe nié ‘n mannetjie nie, het gekraam. Ma en kroos moes tussen net en sink met die reddende kake van ‘n skêr verlos en gered word.
Vier kinders; drie meisies en ‘n seun is gebore. Twee is pikswart en twee is gestreep.
Die tefies het fraaie nootjies geword en die buurt se kêrels het hul skoonheid spoedig geruik en gereeld begin kuier...
‘n Gekattemaai, rusverstoring en beneukte bure. ‘n Vals katafonie met ‘n berserker op die dirigeerpodium.
Toe kondig CARS sy gemeenskapsprojek aan. Die kateienaar, ‘n pensionaris, maak ‘n billike donasie-aanbod – en siedaar!
Die hokke is afgelewer en almal is onkant vreemd, maar tevrede, voorberei vir die reis hospitaal toe. Geen kos of water die vorige aand nie.
Kabouter, die mannetjie, het egter katsegedagtes gekry en het twee keer uit die traliehok ontsnap. Hy het blykbaar gesnuf wat kom en het katvoet dak toe gespring, waar hy alles beloer en in die sonnetjie op die naat van sy rug met sy gereedskap gespog het!
Helaas, ‘n bende se naels is glo uit vir “daai kat wat weggekom het” - aldus Snor Gromstert, die raspertong van die skinderpamflet, Miaau!, Dié pamflet word hoofsaaklik in ondergrondse riole deur rotte in die buurt Paddavlei versprei.
Die “katarazzi” gaan hom glo by die steg met hul kameras voorlê om hom vir die agterblad te snêp! Die paalplakkaat is al gereed: “Kabouter se knaters word geknip!”
Kabouter, Meisie, Meitjie en Kapoesie suig aan Poenankies.
Kabouter, Meisie en Poenankies.
Kabouter en Meisie.
Die (s)katlikheid is mooi genoeg vir ‘n skildery! Foto: CJ de Swardt
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’