RIVERSDAL NUUS - 'n Ouma het haar kans met die grendeltyd gesien en g'n nonsies gevat nie.
Kyk, Maria Michaels moenie sonder handskoene getakel word nie, maar sy het 'n hart van goud. Sorg sommer vir 'n hele klomp mense uit haar groentetuin.
Gewoonlik lê die taak om kos op die tafel te sit, meestal op een of twee se skouers, maar dié keer het die 65-jarige ouma sommer almal bymekaar gehark; kleinkinders, broerskinders en sommer die bure ook om hand by te sit om die groentetuin op te knap en te vergroot. Wegkomkans was daar nie, veral nie met die inperking nie - want waarheen kan mens nou weghardloop? Buitendien, almal moet vars lug kry en afstand is daar meer as genoeg.
Die groot gewerskaf het die dag van die inperking, op 26 Maart begin. Onkruid uitgehaal, geskoffel, selfgemaakte kompos van afvalprodukte ingewerk en toe het die plantery begin. Dit is ertappels, wortels, beet, patats en groenrissie wat beswaarlik 'n paar weke verder sommer mooi hoogte het. Eenkeer 'n week word die spulletjie mooi natgelei met reënwater en verder is dit onkruid uithaal en baie liefde inwerk. En dit was aansteeklik, want dit was nie lank nie, of almal se gesindheid het in 'n vrolike atmosfeer van samewerking verander.
"Ek sal altyd groen bly in my hart en ek sien kans vir die lewe, lockdown of te not," vertel sy, 'n Riversdaller in murg en been.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa, Riversdal nuus'