HESSEQUA NUUS - Die Unplugged62-musiekfees wat by Joubert-Tradauw Vineyards net buite Barrydale aangebied word, bied baie meer as net musiek.
Dié musiekfees begin op Vrydag 17 Maart en duur tot Dinsdag 21 Maart.
Die fees is inderdaad 'n fees vir die hele gesin en bied iets vir almal, maak nie saak wat jou voorkeure is nie.
Benewens die talle bekende kunstenaars wat kom musiek maak, is daar 'n lam op die spit, teemaaltye (high teas), laat vonkelwynontbyte, kostafels en talle -stalletjies en natuurlik volledige kroeggeriewe.
As jy daarvan hou om in die natuur te woel, kan drawwers en fietsryers hul drafskoene en fietse saambring, want daar is 'n pragtige roete op die plaas om te benut.
Die nuwe Tradauw-sirkelroete, wat by die Karoo Art Hotel begin en deur die asemrowende vallei vloei, is werklik iets besonders en het drie uitgange wat atlete in staat sal stel om die plek verder te verken.
Die damme op die plaas is ook vol en besoekers kan gerus hul swemklere saambring en kom afkoel.
Maar dis die musiek wat die groot trekpleister van die fees is. Matthew Mole is een van Suid-Afrika se topkunstenaars en sy optredes sal groot aftrek kry.
Ander bekende sangers wat gaan optree, is die Hugo Veldsman, Nomadis Orchestra, Nick Turner/Jannie Hanepoot, Fritz Gun, Faraway George, 2 Deephouse DJ's (DJ Kali, DJ Butters, DJ Adi Fowler) en ook die Zolani Jeugkoor. Verskeie plaaslike orkeste sal ook musiek maak.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'