HESSEQUA NUUS - 'n Kenmerkende eienskap van slange is dat hulle geen pote het nie, maar by sommige slange is daar wel rudimentêre oorblyfsels van pote.
Die Suid-Afrikaanse luislang (python sebae) het byvoorbeeld 'n uitsteekseltjie aan weerskante van die kloaak (gemeenskaplike uitskeidings- en voortplantingsopenin) wat die uitwendige rudimente van 'n pelviese gordel is.
Inwendig is daar verdere rudimente. Die pektorale gordel en borsbeen ontbreek egter by alle slange. Benewens bogenoemde rudimente by sekere slange bestaan die skelet van slange uit 'n skedel en 'n baie lang ruggraat met twee ribbes aan byna elke rugwerwel.
Die liggaamsbedekking van slange word gevorm deur 'n dun, rekbare vel met keratienskubbe daarop, meestal dakpansgewys gerangskik.
Die meeste skubbe is ongeveer net so lank as wat hulle breed is, maar die ventrale skubbe (aan die onderkant van die liggaam) van die meeste slange is baie breër as wat hulle lank is en vorm slegs een ry.
Veral by stadigbewegende slange, soos pofadders (Bitis arietans), speel hierdie skubbe saam met spiere en ribbes 'n belangrike rol in voortbeweging.
Hierdie skubbe is een van die tipiese kenmerke waarvolgens die meeste slange van pootloose akkedisse onderskei kan word. By die blinde - en wurmslangetjies (familie Typhloidae en Lepototyphlopidae) ontbreek hierdie breë skubbe egter en is die onderste skubbe van dieselfde grootte en op dieselfde manier gerangskik as die ander skubbe.
Hierdie slangetjies lyk dus soos pootlose akkedisse en word in werklikheid deur sommige deskundiges ook as pootlose akkedisse beskou, ook omdat hul skedels baie ooreenkomste vertoon met die van akkedisse.
(Bron: Slang - Wikipedia)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’