TUINROETE DISTRIK NUUS - Joh Groenewald, een van George en die streek se bekendste en mees geliefde inwoners, het kort voor sy dood verlede week, nog baie tyd deurgebring by Groenkant naby Gouritsmond. Dit is 'n privaat natuurreservaat, waar hy en sy lewensmaat, Muriel Hau-Yoon graag uitgespan het. Die 80-jarige Groenewald het kanker gehad.
Groenewald het 'n wye belangstellingsveld gehad en baie vir erfenisbewaring gedoen. Hy was bekend in die kringe van omgewingsbewaring, erfenis en seëlversameling. Op sy dag was hy onder meer 'n parlementêre verslaggewer, redakteur, uitgewer en kommunikasiestrateeg.
Hy het diep spore getrap in die wye kommunikasieveld. So byvoorbeeld het hy gehelp om destyds die slagspreuk uit te dink vir die aartappelbedryf, "Gesondheid uit die grond uit." In 1976 het hy saam met Hau-Yoon Afrikom gestig. Dit was die eerste veelrassige skakelkonsultasiefirma in Suid-Afrika. In 1973 was hy die stigter van Nasionale Boomplantdag.
Groenewald het ook 'n reuserol in die sake van die Filateliese Federasie van Suid-Afrika gespeel.
In die Suid-Kaap was hy 'n stigterslid van die Duineveld-kusvereniging wat kuseienaars verteenwoordig tussen Stilbaai en Gouritsmond, mede-eienaar van Groenkant, sekretaris van die Gourikwa-bewarea en van die Ystervarkfontein-bewarea.
Hy het ook baie vir George Herald beteken en het gereeld bydraes vir die koerant gelewer.
Sedert sy dood bekend geword het, het verskeie mense hulde aan hom gebring.
Hau-Yoon het Maandag gesê sy is oorweldig deur 'n vloedgolf van medelye en bedank almal vir hul liefde en gebede. "Joh se dood los 'n groot leemte. Hy was 'n intellektuele en morele reus wat vir reg en geregtigheid geveg het."
Dr. Nic Zerbst, voorsitter van die George-seëlklub, het gesê Groenewald was 'n monument van kennis. Hy het graag sy kennis met ander gedeel en was internasionaal bekend in seëlkringe.
Henry Paine, voorsitter van die George Erfenistrust, het gesê Groenewald het 'n reusebydrae gemaak. "Hy sal meer as gemis word en is onvervangbaar."
Group Editors se groepsredakteur, Ilse Schoonraad, het gesê Groenewald was een van die interessantste, mees inspirerende persone wat sy ooit ontmoet het. "Mens kon altyd op hom staatmaak en hy het vir die dorp, sowel as vir George Herald, ontsaglik baie gedoen. Almal wat die voorreg gehad het om dié sagte reus te ken, gaan hom ontsaglik mis. Ons harte gaan uit na Mu. Wat 'n onbeskryflike verlies."
n Groenewald het versoek om veras te word. Daar sal nie tydens die inperking 'n begrafnisdiens gehou word nie. Geleentheid om sy lewe te herdenk sal op 'n gepaste tyd gereël word.
Joh, ons gaa jou mis
Joernalis Eugene Gunning, 'n jarelange vriend van Joh Groenewald, bring hulde aan sy merkwaardige vriend.
"Op die oog af was dit 'n verjaarsdaggeleentheid soos baie ander, maar uiteindelik tog aansienlik anders en uniek. Die talle gaste het reeds van laat oggend begin opdaag by Bygracealone in Geelhoutboom vir 'n heerlike middagete, saamkuier en natuurlik verjaarsdag vier. Die gasheer en man wat verjaar het, het almal verwelkom en toe iets ongewoons gedoen. Hy het 'n mikrofoon gevat en by elke tafel, elke gas met 'n kort beskrywing aan almal bekendgestel. Daar was geen toesprake wat sy lof besing het nie.
"My mond het oopgehang want die gastelys en beskrywings was 'n weerspieëling van die verjaarsdagman, Joh Groenewald, se wye belangstellingsveld. Die geleentheid in November verlede jaar waar sy 80ste verjaarsdag gevier is, het meer vertel van Joh Groenewald as wat ek voorheen van hom geweet het.
"Want Joh was nie iemand wat maklik oor homself gepraat het nie en selfs by daardie besondere mylpaal in sy lewe, het dit nie vir hom oor homself gegaan nie.
"Tot voor daardie dag het ek Joh Groenewald betreklik goed as vriend geken. Ons het immers gereeld saam koffie gedrink, die land (en George) se probleme "opgelos" en saam rugby op televisie gekyk.
"Dit was danksy sy lewensmaat van 36 jaar, Muriel Hau-Yoon, dat ons paaie gekruis het. Ek ken Muriel van my dae in Kaapstad. Toe hulle 'n paar jaar gelede permanent na George verhuis het, het ons vriende geword.
"Ons het gou aanklank gevind. Groenewald was baie betrokke in die kringe van omgewingsbewaring, erfenis, seëlversameling, hy was op sy dag onder meer 'n joernalis in die parlement vir 'n publikasie en ook betrokke by die kommunikasiebedryf. Hy het sterk menings gehad oor openbare sake.
"Soms het ek hom aangepor om staaltjies van die verlede te deel. So het hy op 'n keer vertel dat hy destyds klas gehad het by onder meer Robert Sobukwe tydens sy studiejare by Wits.
"In Desember het ek op 'n dag by hom en Muriel gaan kuier by Groenkant, naby Gouritsmond. Hy was mede-eienaar van Groenkant. Al was hy toe reeds siek, het hy self die vleis daar langs die see gebraai.
"Verlede Donderdag, net 'n paar uur voor sy dood, het ek nog telefonies met Muriel gesels. Dit het nie goed gegaan met Joh nie. Laat middag het ek gehoor hy is oorlede.
"Ek het vinnig 'n kort berig oor sy dood vir George Herald / Group Editors se aanlyn-deel geskryf. Dis nie wat Joh sou wou gehad het nie. Kan ek egter byvoeg: "Joh, jy moet my maar dié keer vergewe. Die baie mense wie se lewenspaaie met joune gekruis het, gaan jou mis."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'