STILBAAI NUUS - Die Outeniqua Dendrologie Vereniging het Stilbaai die laaste paar dae besoek om meer te wete te kom oor die bome en plantegroei in die omgewing.
Volgens die voorsitter, Robert Smith, het hulle jaarliks 'n toer na verskillende plekke, want die plantegroei verskil van streek tot streek. So het hulle al die Tsitsikamma besoek en ook Baviaanskloof.
Dendrologie is 'n vertakking van botanie wat spesialiseer in die identifisering en karakterisering van houtagtige plante waar botanie alle tipes plantegroei bestudeer.
Dr. Deon Begemann het die groep Woensdag 3 Mei na die stuk grond, bekend as erf 657, tussen Stilbaai-gholfbaan en die Jongensfontein-pad geneem. Hierdie 62 hektaar unieke plantegroei beskik oor 184 plantspesies. Wat dit verder uniek maak is dat hierdie stuk grond nog nooit geploeg is nie.
Na die aanvanklike praatjie het die groep van die tweespoorpad afgedwaal en daar is amper by elke bossie gestop om te bestudeer en te bespreek. Hul entoesiasme was tasbaar en duidelik het Stilbaai se plantegroei 'n ander aantrekkingskrag as die woude tussen George en Knysna.
Die groep het ook Skulpiesbaai, Pauline Bohnen-natuurreservaat en Tuin-Op-Die-Brak besoek.
Botanietoere is 'n onontginde juweel in die Stilbaai-omgewing en is iets wat werklik aktief bemark moet word. Kenners soos Christina Mars, dr. Begemann en talle ander kan gebruik word om dit suksesvol te maak.
Die Stilbaai Bewaringstrust en die Coastal Clean-up groep is alreeds aktief besig om met vrywilligers hierdie stuk grond skoon te maak. Planne om wandelpaaie daar te maak moet nou aandag kry.
Ontwikkeling en groei in Stilbaai vind teen 'n fenomenale pas plaas. Groen stroke is egter uiters belangrik in stedelike ontwikkeling.
Central Park in New York is sekerlik een van die gesogste stukke grond in Amerika, maar die stadsvaders behou dit as 'n park waar die inwoners vrylik in die natuur kan ontspan.
Meeste van die ontspanning in Stilbaai is in die natuur en erf 657 moet gevoeg word by Tuin-Op-Die-Brak, Skulpiesbaai en die res as 'n besoekpunt.
Dr. Deon Begemann, heel regs, vertel vir die groep meer van die steekhaarbos (Collumia Carlinoides), een van die plante op die lys van naby bedreigde spesies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’