Geskiedenis is tydens die afgelope ATKV Nasionale Redenaars- en Debatkompetisie in die semi-finaal gemaak toe daar in alle moontlike hoërskoolafdelings Dasse na die finale rondte op Buffelspoort deurgedring het.
Volgens me. Lizelle van Staden, hooforganiseerder van hierdie landswye kompetisie, is dit ongekend dat 'n skool van Langenhoven se grootte so 'n besondere prestasie behaal. Selfs van die land se groter skole kon in jare nie hierdie prestasie bereik nie.
Skole vanoor die hele Oos- en Suid-Kaap het op 1 en 2 Junie by Hoërskool Outeniqua teen mekaar te staan gekom. Die redenaarskompetisie bestaan uit vier kategorieë, naamlik Seniors, Juniors, Eerste Addisionele Taal (EAT) en Tweede Addisonele Taal (TAT). In alvier hierdie kategorieë tree Langenhoven as wenners uit die stryd.
Die wentoesprake is deur Aldu Duminy (Seniors), Erika Oosthuizen (Juniors), Duhné Liebenberg (EAT) en Annabelle Lloyd (TAT) gelewer.
In die Debatsafdeling is Aldu Duminy en Ancois-Mari Smit as seniors die algehele wenners met Outeniqua in die tweede plek. Patsy Oosthuizen, Erika Oosthuizen en Jade Prins behaal as juniors 'n ewe trotse tweede plek met Outeniqua as die wenners. Wat 'n verdere rariteit is, is dat albei spanne as inleidende spanne deurgedring het. In die lig van die onderwerpe was dit die meer uitdagende posisie om in te wees.
Die seniors moes hul opponente daarvan oortuig dat die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering tot voordeel van 'ALLE Suid-Afrikaners' is. In die juniors se geval moes hulle weer hul drie manlike opponente daarvan oortuig dat daar beslis 'n streng verbod op jag in Suid-Afrika ingestel behoort te word.
'n Groot uitdaging lê vir hierdie leerders voor. Hoewel die debat-spanne vir die afgelope twee rondtes dieselfde onderwerp behou het, trek hulle tydens die finaal eers die aand voor die kompetisie lootjies om vas te stel of hulle van standpunt moet verander of nie. Juis daarom wens die skool en personeel hul almal sterkte en voorspoed toe met die finaal op 17 en 18 Augustus in Rustenburg. Die skool is met reg trots omdat alle Geskiedenisboeke herskryf is.

Die jongetjies – die junior debatspan Patsy Oosthuizen, Erika Oosthuizen en Jade Prins.

Dasse redenaars wat aan die finaal gaan deelneem is Erika Oosthuizen, Aldu Duminy en Annabelle Lloyd. (Afwesig: Duhne Liebenberg).