HESSEQUA NUUS - Die watervlak van die vernaamste damme in die streek is baie laag.
Die Korentepoortdam se vlak was Maandag op 37%. Louis van Dyk, bestuurder van die Korente-Vetterivierbesproeiingsraad verduidelik dat die lae vlak ernstig, maar beslis nie ongewoon is nie. In 2009, toe dit net 478 mm gereën het, het die dam se vlak op 28% gelê, die laagste vlak ooit.
"Reënval word sedert 1993 by die damwal gemeet en aangeteken. Uit hierdie data blyk dit in normale siklusse van nagenoeg 10 jaar plaasvind," verduidelik hy.
Tussen 1993 en 1999 het dit gemiddeld 830 mm per jaar gereën; tussen 2000 en 2009 was dit gemiddeld 780 mm/jaar; en tussen 2010 en 2019 gemiddeld 712 mm per jaar. "Dis 'n afname van sowat 1% per dekade en dit wys dat dit wel weer gaan reën."
Die droogte van die afgelope vier jaar dra by tot die huidige lae vlak. In 2016 het dit 678 mm per jaar gereën, in 2017 was dit 616 mm, in 2018 net 489 mm en in 2019 altesaam 552 mm. "Dié reënval is sowat 200 mm minder as die gemiddelde normale reënval van 700 mm per jaar."
Die besproeiingsraad tree as agent op van die departement van water en sanitasie en die water word aan verbruikers verkoop. Elke verbruiker se water word sekuur afgemeet en die verbruikers kry elke maand 'n rekening. Water word op bestelling van die munisipaliteit en die boere vrygelaat en vloei met die rivierstelsel 3 km ver na die keerwal by Novo. Van hier af word die water met 'n pyp na die munisipaliteit se opgaardam gevoer vanwaar dit in die dorp vir menslike gebruik versprei word. Water aan die boere word in kanale na plase gelei waar dit vir diere en landbou gebruik word.
Hoe laer die vlak van die dam, hoe minder water is vir die gebruikers beskikbaar.
"Wanneer die dam se vlak tussen 40 en 55% is, word landbou se water met 20% en die dorp s'n met 5% beperk; wanneer die vlak op tussen 40 en 20% is, word landbou se water met 40% en die dorp s'n met 10% ingekort. Wanneer die vlak laer as 20% daal, word landbou se water met 60% en die dorp s'n met 20% gesny. Ons hoop maar dat die vlak nie so laag gaan daal nie. Die gemeenskap moet besef dat water nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie, maar dat elke druppel tel en dit spaarsamig moet gebruik."
Die Duiwenhoksdam was Maandag 42% vol. "As die dam se vlak op 30% staan, kry die boere niks meer water nie," sê Kobus Willemse wat in dié distrik boer.
Volgens hom kry die boere wat hier met suiwel, groente en vrugte boer reeds baie swaar. "Die besproeiingswater uit die Duiwenhoks-besproeiingsraad se kanale is min. Boere het hul kuddes aansienlik verminder en feitlik almal moet voer inkoop, maar hoe maak mens as daar nie water is nie?"
Hy meen as boere water spaarsamig gebruik, is daar nog water vir drie, miskien vier weke oor. "Maar ons bly glo. Verlede jaar dié tyd was die owerhede ook op die punt om die water af te sny - en toe reën dit meer as 60 mm."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'