RIVERSDAL NUUS - 'n Misdaadvoorkomingsveldtog deur die plaaslike polisie het daartoe gelei dat 'n 22-jarige man op 13 Februarie vir die rook van dagga in 'n openbare plek gearresteer is.
Adriaan Solomons is in Varkevisserstraat, Riversdal, betrap waar hy 'n daggazol gestaan en rook het.
Hy is gearresteer en het tydens sy verskyning in die plaaslike landdroshof op 15 Februarie skuldig gepleit en is 'n boete van R500 of 25 dae gevangenisstraf opgelê.
Hy is aanvanklik aangehou, maar is later vrygelaat nadat sy boete betaal is.
Sers. Jakobus Spangeberg, verbonde aan die Langeberg K9-eenheid, het in samewerking met die plaaslike polisie dié veldtog van stapel gestuur wat daarop gefokus het om mense wat hulself skuldig maak aan die besit of handel in dwelms, of moontlik met gevaarlike wapens 'n gevaar vir publiek inhou, vas te trek.
Spangenberg sê plaaslike inwoners verkeer onder die wanindruk dat die rook van dagga in die publiek wettig is, maar die realiteit is dat dit onwettig is.
Slegs die "private" kweek en gebruik van dagga is deur die grondwetlike hof gewettig.
Die plaaslike stasiebevelvoerder, lt.kol. Isaacs het sers. Spangenberg, sers. Garnet Damans en konst. Edwin Kortjé vir hul pogings bedank om misdaad hok te slaan.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'