GOURITSMOND NUUS - Daar is toe wel drie vleilande op die perseel waar 'n maatskappy 'n perlemoenaanleg wil bou.
Liz Day, 'n onafhanklike omgewings-konsultant het bevind dat drie sensitiewe vleilandgebiede op en aangrensend tot die perseel van die voorgenome perlemoenaanleg is.
Die verslag erken dat die beplande ontwikkleing 'n uitwerking op die ekosisteem en die vleilande sal hê en beveel streng bestuursmaatreëls aan.
"Die vleilandverslag was vir redes wat onbekend is slegs op die suidoostelike deel van die voorgestelde gebied gefokus wat vir die ontwikeling geoormerk is," sê Org Nieuwoudt, voorsitter van die Gouritsmond-sambreelliggaam.
Die aanvanklike ondersoek kom na inwoners van die dorp aan die Hessequa-kuslyn beswaar teen Aqunion se aanvanklike omgewingsimpakstudieverslae. Die maatskappy het ook perlemoenaanlegte elders in die Wes-Kaap. "Die aanwesigheid van die vleilande op die terrein, aangrensend daartoe en langs die toegangspad bevraagteken nou die proses wat gevolg is om 'n waterverbruikerslisensie en 'n afvalontslagpermit te bekom en dit sal ook ondersoek word."
Nieuwoudt sê ook die liggaam verwelkom Anton Bredell, Wes-Kaap minister vir omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning se opdrag aan Aqunion dat 'n verdere onafhanklike ondersoek gedoen kan word om die bevindings van die vleilandverslag te kontroleer.
"Aqunion se drie opeenvolgende basiese bepalingsverslae het tevore versuim om die vleilande te noem. Die maatskappy se bestuurshoof het heftig ontken dat daar so iets op die terrein is." (Brief in Suid-Kaap Forum, 4 April 2019).
"Nou weet ons hoe misleidend of oppervlakkig 'n basiese bepaling kan wees," sê Nieuwoudt. "Ons het uit die staanspoor op 'n volledige omgewingsimpakstudie aangedring."
Lees 'n verwante artikel: Minister vra ondersoek na vleilande
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'