HESSEQUA NUUS - Gerswin Cupido het swaar grootgeword in die Hessequa-distrik as die kind van 'n plaaswerker/huishulp-ma. Hy het egter bo sy omstandighede uitgestyg.
In 'n onlangse radio onderhoud met Haidee Muller-Isaacs op RSG vertel hy van sy passies en sy werk onder die jeug op die platteland.
Cupido (26) is in Herbertsdale anderkant Albertinia gebore. Hy het by Hoërskool Langenhoven op Riversdal matrikuleer en het baie gemeenskapswerk in verskeie dorpe in die Hessequa-streek gedoen. Tans is hy 'n projek-organiseerder by die SBA (Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans) in Kaapstad.
Sy ma, Eveline op Albertinia beteken vir hom alles in die lewe. "Ek het baie by my ma geleer en sy het altyd vir my gesê daar is iets beters vir my daar buite. Sy moes 30 kilometer stap om my vrou alleen by die laerskool in te skryf. Ek het eenkeer die afstand saam met haar gestap, en dit was nie maklik nie."
Op 'n dag het iemand van die SBA hom geskakel en gevra om 'n projek op Albertinia te hanteer.
"'n Paar maande daarna bel die befaamde, ikoniese Sandra Prinsloo my. Jy sien die vrou net op televisie en hier vra sy my of ek die kontakpersoon sal wees vir haar stories van dorpe en vergete gemeenskappe wat sy opneem. "In daardie stadium het sy Melkhoutfontein se storie opgeneem en van daar af het my betrokkenheid by die SBA begin."
Die SBA het 'n toekomsprojek wat vir hom baie na aan die hart lê. Dit mentor plattelandse hoërskoolleerders oor hoe om aansoek vir werk en voorbereiding vir 'n onderhoud te doen.
Beursaansoeke
"Ek help hulle met die aansoeke en beursaansoeke. Ons van die platteland is eintlik bang om Kaap toe te kom. Ek het in Afrikaans onderrig gekry en ons is bang vir Engels. Dit gaan nou beter en ek probeer darem om 'n balans te handhaaf," erken hy.
Volgens hom is baie plattelandse ouers oningelig oor beursaansoeke omdat min organisasies wat beurse aanbied, na die platteland gaan. "Die ouers besef nie dat hulle nie 'n beurs hoef terug te betaal nie en dis wat ek in 'n proses en meer in my gemeenskap doen – om die organisasies binne-in die gemeenskap te vat en met die studente en hulle ouers gesels."
Cupido sien homself as 'n suksesvolle persoon wat 'n verskil in mense se lewens wil maak. "Ek wil oor 'n paar jaar op 'n hoogtepunt in my lewe wees, waar ek kan sien dat alles wat ek ingesit het, nie iewers doodgeloop het nie, maar geblom."
Hy sonder 'n paar van die baie mense uit wat in sy lewe ingeploeg het, soos Marlene le Roux, 'n vroue- en jeugaktivis wat internasionaal bekend is. "Sy is ook die uitvoerende hoof van Kunste Kaap en ek streef daarna om te bereik wat sy al in haar lewe bereik het."
Hy bedank ook sy vorige direkteur, dr Neil le Roux. "Hy het soveel goedheid in my raakgesien en na hy my die eerste keer gebel en gevra het om SBA toe te kom, was ek bang en wou nie. Maar hy het my nie vergeet nie en weer gebel en gesê 'Gerswin, hier is 'n tweede kans' – wat ek gevat het. Ek het myself bewys in die SBA en dis wat hy binne my gesien het."
• Erkenning aan RSG vir die onderhoud (verkort). Gaan na https://iono.fm/e/1103680 vir die volledige onderhoud.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'