Gallery Update
HESSEQUA NUUS - Dertien atlete van die Langeberg-atletiekklub het aan vanjaar se Comrades-marathon op 9 Junie deelgeneem en baie goed gevaar.
Matthys (9:49:07) en Analie Heyns (9:37:26) het hul 10de Comrades as klublede voltooi. Vier atlete, naamlik Johan Stemmet (7:25:18), Danie Geldenhuys (8:26:19), Wendy Joubert (8:51:48) en Lodelia Odendaal (8:55:41) het elk 'n Bill Rowan-medalje verower deur die marathon binne nege uur te voltooi. Callie Jordaan (9:52:16), Mari Gunter (9:43:51), Estelle Swart (11:01:22) en Tina Bredenhann (11:51:27) het vir die eerste keer deelgeneem.
Ander klublede wat deelgeneem het, was Lima Eksteen (9:43:51), Redowaan Mert (11:57:16) en Louis Booysen (12:10:58).
"Baie geluk aan al ons atlete met hul prestasies, ons is baie trots op julle," sê Nico Steyn, voorsitter van die klub.
Die Langeberg-atletiekklub het op 20 Augustus 1991 as die Langeberg Harlequins-klub tot stand gekom. Daar was altesaam 41 lede van Swellendam, Barrydale en Heidelberg wat gehardloop en fietsgery het. Daardie jare was die ledegeld R25. Die eerste wedloop waaraan hulle as klublede deelgeneem het, was die Voet van Afrika wat in Bredasdorp plaasvind. Teen 1992 het die klub se ledetal gegroei tot 77, waarvan 55 gehardloop, vier fietsgery, vier gestap en die res nie mooi geweet het wat hul voorkeur is nie.
Daardie jaar is die Swellendam-halfmarathon onder die klub se vaandel aangebied en 245 atlete het deelgeneem. Op 7 November 1992 is die Tradouwpas-halfmarathon aangebied, waaraan 189 atlete deelgeneem het. In 1993 is atlete van Riversdal en Stilbaai ook by die klub betrek, en in 1998 het die klub sy eerste klubuitrusting in die klubkleure maroen en wit gekry. Die eerste Vlakte-marathon tussen Heidelberg en Witsand is in 2001 aangebied, wat deesdae 'n kwalifiserende marathon vir die Comrades is. Die Vlakte-marathon is die enigste wat nog aangebied word en vanjaar s'n vind op 23 November plaas. Vandag is atlete van Swellendam, Heidelberg, Riversdal, Stilbaai en Albertinia lede.
"Ons is baie trots op ons atlete wat deur die jare aan die Comrades deelgeneem het," sê Steyn.
Kontak Steyn by 083 226 3091 of langebergathletics@gmail.com vir meer inligting oor die klub.
Van die lede van die Langeberg-atletiekklub wat op 9 Junie aan die Comrades-marathon deelgeneem het, is van links: Jimmy Robertson, Lodelia Odendaal, Danie Geldenhuys, Callie Jordaan, Matthys Heyns, Wendy Joubert, Annelie Heyns, Lime Eksteen en DJ Oosthuizen.
Wendy Joubert.
•Lees 'n vorige artikel hier: Langeberg atletiekklub woel by Comrades
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'