HESSEQUA NUUS - Dis moeilik om finaal afskeid te neem van iemand wat werklik groter was as die lewe self. 'n Deurtrapte koerantman in elke sin van die woord. 'n Legende van die gemeenskapspers en 'n ongelooflike mens.
Letterlik honderde Facebook-inskrywings en boodskappe van ondersteuning het sedert Saterdagoggend, 25 Maart, begin instroom van vriende en sy groter koerantfamilie nadat die nuus bekend geword het dat Cliff Buchler op 84-jarige ouderdom aan hartversaking in sy woonstel in 'n aftreeoord in Kaapstad oorlede is.
Cliff was redakteur van verskeie gemeenskapskoerante oor byna 40 jaar waar 'n hele geslag van jong joernaliste, regstreeks en onregstreeks, sy vorming en leiding ervaar het.
By Group Editors in George was hy instaanredakteur by verskeie van die groep se titels, onder andere in Riversdal.
Sy kennis en insigte as skrywende koerant-man van veral die binnewerkinge van 'n gemeenskapskoerant sal moeilik geklop word. Sy aandrang op nóg groter en beter was legendaries en het die weg gebaan vir junior koerantmanne en -vroue om later in hul loopbane groot joernalistieke hoogtes te bereik.
Tot sy voortreflike loopbaan het saam-gewerk al die instinkte en verworwe vaardighede wat 'n deurtrapte joernalis maar kan begeer. Hy kon sy stempel afdruk op feitlik al die pilare waarop 'n sterk gemeenskapskoerant moes staan: harde nuusman, vars uitleg met groot opskrifte en goeie foto's GROOT gebruik, en dan veral sy hoogs leesbare en gewilde rubrieke, meeste deurspek met skerp humor en byt aan die einde.
Hy het in vele hoedanighede gedien en in sy lang en voortreflike loopbaan het hy verskeie gemeenskapskoerante oopgemaak - en tot sy ontsteltenis in opdrag gesluit.
Maar altyd, altyd in die eerste plek was hy 'n ware nuusman, soos wat dit 'n ware koerantman betaam. "Gaan kry die storie," was altyd voorop in sy gedagtes.
Sy avontuurlus, sy blymoedigheid en sin vir humor ongeag hoe goed of sleg die situasie was waarin hy hom ook al bevind het, sal almal met wie se paaie hy in sy lewe gekruis het, onthou.
Ons wat hom goed geken het, verloor 'n edele vriend en 'n lojale kameraad. Maar mens vind tog skrale troos in die feit dat hy 'n navolgenswaardige rigsnoer agterlaat met die voorbeeld wat hy gestel het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’