STILBAAI NUUS - Die wêreld het die laaste twee tot drie jaar 'n transformasie ondergaan en Stilbaai het die veranderinge nie vrygespring nie.
Ons ontmoet daagliks nuwe inwoners en vakansiegangers. Nuwe besighede maak hul deure oop en ons kry gereeld die vraag: "Wat is Stilbaai se Christmas in July presies?"
Besigheidsvennote Adolf en Johannie van Stilbaai Kelders het in 2016 besluit om iets in Stilbaai te skep om besigheid en toerisme in die stil wintermaande te stimuleer.
Die beplanning het begin met 'n feestelike nagmark in Voortrekkerstraat waar hulle winkel geleë is. Dit het vinnig uitgebrei en kort voor lank was dit 'n week vol aktiwiteite, promosies en opvoerings.
Besoekers van oor die land sien nou elke jaar uit om Stilbaai nie net in Desember te besoek nie, ook in Julie.
As gevolg van die Covid-19-pandemie kon Stilbaai se Christmas in July vir die laaste twee jaar nie plaasvind nie, maar die organiseerders is opgewonde optimisties dat hulle vanjaar kan voortgaan met die reëlings.
Alle besighede en inwoners word ook uitgedaag om hul besighede en huise te versier soos in Kerstyd. Hulle kan dan foto's op die Christmas in July Facebook-blad plaas en die inwoners sal die geleentheid kry om te stem vir die mooiste versiering. Daar is natuurlik 'n prys op die spel.
Kersbome is helder verlig.
Dit sneeu in Stilbaai tydens die Christmas in July.
Die Kersliggies maak 'n mooi indruk op besoekers aan die Stilbaai Christmas in July.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'