Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Dag spesiaal vir diere, hul eienaars en diereliefhebbers is Sondag, 12 Desember deur die Community Animal Rescue Society (CARS) by Riversdal-skougronde aangebied.
'n Verskeidenheid stalletjies, musiek en kos het vir 'n lekker atmosfeer gesorg. CARS het binne 'n week 100 etekaartjies verkoop en mense kon daar eet, of die kos huis toe neem.
Die dag se verrigtinge is met 'n staptog deur eienaars met hul troeteldiere begin. Die teenwoordiges het ook die geleentheid gehad om deur die dag met die honde wat deur CARS versorg word, te gaan stap of sommer net te speel. Hierdie honde het al die aandag en liefde nodig wat hulle kan kry.
Die doel van die dag was om bewusmaking te skep van die werk wat hulle doen, maar dit was ook 'n fondsinsameling om die nodige geld te in om na rondloper- en verwaarloosde diere om te sien.
FOTOGALERY: CARS honde pretdag
"Wanneer ons verwaarloosde honde kry, word hulle gesteriliseer, ingeënt, medies ondersoek en 'n mikroskyfie word ingeplant. As hulle dan na die eienaar teruggaan, is dit met 'n sak kos. Die munisipaliteit befonds die sterilisasie, maar die vereniging moet die honde oplaai en na die veearts neem. Vrywilligers is nie altyd vir hierdie taak beskikbaar nie en dan moet iemand betaal word om te help," verduidelik Sandra Lotz, CARS-voorsitter.
Sy sien tans om na 16 honde en daar is drie perde wat by die skougronde gehuisves word.
"Dit het CARS amper R4 000 gekos om die twee volwasse perde te laat inent. Die vulletjie moet nog gedoen word."
Robyn Learmonth, CARS se tesourier sê dat dit 'n groot verantwoordelikheid is om na die finansiële sy van 'n welsynsorganisasie om te sien en dat geld skaars is. "Met die pandemie het baie mense hulle werk verloor en kan nie meer na hulle diere omsien nie. Baie kan ook nie meer skenkings maak nie," sê sy.
"Die nood is hoog in alle sektore en almal soek geld, wat dit al moeiliker maak om die vereniging finansieel gesond te hou. My liefde vir diere hou my egter aan die gang."
Lotz sê in hierdie onseker tye het almal iets positiefs nodig en sulke pretdae kan baie help om dit te vermag. "Juis daarom moet dit met meer stalletjies en aktiwiteite voortgaan. Ons het reeds begin beplan aan die volgende een."
Indien jy meer te wete wil kom van CARS of by dierewelsyn betrokke wil raak, skakel vir Sandra Lotz (082 962 1831). Hulle area strek vanaf Slangrivier tot by Gouritsriviermond.
Die honde kon halfpad hul dors les, terwyl hul eienaars toekyk.
Vorige artikel: Troeteldiere word bederf
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'