Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Vergadering deur Stilbaai se gemeenskapspolisieringsforum (GPF) wat daarop gemik was om die idee van 'n buurtwagstelsel in Melkhoutfontein te laat posvat, het Dinsdag 23 Augustus in die plaaslike gemeenskapsaal plaasgevind.
Die nodige pamflette was onder die teenwoordiges versprei.
Die voorsitter, Alison Bryant het gepraat oor projekte waarmee die GPF, in samewerking met Stilbaai-polisie besig is.
Sy het ook uitgewei oor die kameras in en om Stilbaai en die beheerkamer, vanwaar hierdie kameras en radiokommunikasie met die geregistreerde en geakkrediteerde buurtwagte gemonitor word om misdaad in en om Stilbaai te bekamp.
'n Familiepark wat hulle in Melkhoutfontein wil vestig om die kinders in 'n veilige omgewing te laat speel en om gesinseenheid aan te moedig en te versterk, was ook op haar agenda.
Die stasiebevelvoerder, kapt. Johan van Tonder het 'n voorlegging oor misdaad en die bekamping daarvan gedoen.
"Inbrake styg, maar byna al die oortreders is gevang," het hy gesê en bygevoeg dat kontakmisdaad wel 'n afname toon.
"Oor die afgelope vier jaar is die meeste groot dwelmhandelaars gevang. In totaal was 25 dwelmhandelaars voor die hof gebring, skuldig bevind en toegesluit."
Hy het 'n pleidooi gerig dat die gemeenskap hulle van dwelm- en drankhandel moet weerhou, omdat dit die hoofoorsaak van misdaad is.
Rdl. Rennee Davids, wat as voorsitter van die vergadering gedien het, het daarna die vloer vir vrae geopen en dis hier waar die frustrasies oorgespoel het. Die algemene gevoel was dat hulle bekommerd oor die misdaad in Melkhoutfontein is en dat die polisie nie genoeg doen nie.
Van die teenwoordiges het gevra hoekom daar nie 'n satellietpolisiestasie kan wees nie, waarop Van Tonder geantwoord het dat hy eenvoudig nie die mannekrag het om dit te beman nie. Lt.kol Lionel Kennedy van die distrikskantoor in Mosselbaai wat die vergadering bygewoon het, het dit beaam en gesê dat die polisie hulle vermoëns in gebiede met groot misdaadstatistieke moet konsentreer en hier val Stilbaai uit.
Van die gemeenskapslede het gesê dat dit hulle gaan dwing om die reg in eie hande te neem om hulle en hulle gesinne te beskerm. "Ons is moeg daarvoor dat dinge op ons afgedwing word sonder dat ons daarin geken word, soos met die familiepark," het Marthinus Baadjies uit die gehoor gesê.
"Praat eers met die gemeenskap oor sulke projekte. Is dit iets wat ons wil hê? Waar sal ons dit wil hê en is dit veilig daar?"
Pastoor Jonathan Kleynhans het probeer om mense te kalmeer en gevra dat hulle dit oorlaat aan die polisie.
Dit was baie duidelik dat die gemeenskap keelvol en gefrustreerd is, maar persoonlike aanvalle op die polisielede was onnodig en in swak smaak.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'