Aan die woord, is pastoor Christo Crafford van Bride Ministries, Riversdal wat vir ons lesers vertel wat hul met hul besoek aan Indië beleef het.
"‘n Heidense land met net 2.4% Christene. Daar word oor die 300 000 afgode aanbid. Een van die kleurvolste lande wat kleredrag betref met morele waardes wat ek nog nie voorheen gesien het nie. Misdaad wat ons glad nie van bewus is nie. Almal kyk krieket en Tendulkar - Indië se kolfsensasie - is die grootste sportheld in die geskiedenis van die land. As daar nie krieket op die televisie is nie kyk almal na Bollywood se passievolle dansers. Hier voel dit of alles stop, want die res van hierdie land is baie hartseer.
"Armoede orals om jou. Meer as 50% van die bevolking verdien tussen R250 en R350 per maand. Wedewees en weeskinders in miljoene. Amper elke kerk het ‘n weeshuis wat hy behartig. Daar is net soveel klein kindertjies wat deur hulle ma’s weggegee word omdat daar net nie finansies is nie. Selfs in die sogenaamde plakkerskampe wat ons in Suid-Afrika ken, vat van die armstes kindertjies in wat net weggegooi word.
"Dit het vir my gevoel ek kan ‘n bus vol kindertjies aanneem en terugbring na Suid-Afrika toe.
"Ons het ongeveer 10 verskillende kerke bedien waarvan daar 14 optredes was. Ons is uitgenooi deur Vijay Raj van Godwill Ministries wat ‘n weeshuis bestuur van 10 kindertjies in sy ma se huis met slegs twee slaapkamers. Vanaf Hyderabad die vierde grootste stad met ongeveer 12 miljoen mense het ons in ‘n radius van ongeveer 1000km gereis en bedien. Dit was ‘n wonderlike blootstelling aan ‘n besondere kultuur en natuurlik is ons orals soos konings ontvang.
"Oral waar ons gekom het aan huis, kerk of winkeltjie was ons die eerste buitelanders wat daar voet gesit het. Ons het gevoel soos nasionale besienswaardighede soos almal ons aanstaar en aan ons wil raak. Waar ons kerke leegloop was elke plek waar ons bedien het volgepak met kinders en volwassenes. Ons het op geboue se dakke kerk gehou. Dan weer in Villages in die platteland en dan weer in dorpe en stede in pragtige geboue.
"Ons het een oggend en middag ‘n pastore konferensie met ongeveer 50 leiers gehad wat verseker een van die hoogtepunte was, want dit was hier waar die probleme gelê het. Die kerke daar is verskriklik godsdienstig en hulle lidmate mis geen byeenkoms nie.
"Die hartseer egter is dat die gemeentes daar erg geestelik onvolwasse is en behalwe vir die Pastore wat bybelskool gedoen het, is hulle mense glad nie dissipel nie. Hulle voorgangers, sendelinge en evangeliste wat die evangelie uit die buiteland gebring het, het net gefokus op bekering. Hulle geloofbelydenis bestaan net uit drie dele. Jy moet tot bekering kom, dan gedoop word en dan moet daar wonderwerke en genesing kom. En dit is al. Na elke byeenkoms stroom die mense letterlik op jou af en jy moet vir hulle bid vir ‘n wonderwerk. Party forseer jou hand op hulle koppe vir gebed. Ander bring olie of water saam wat jy moet aanraak en hulle sal dit drink en nou sal jou salwing binne hulle wees.
Die Godsdienstige Westerse televisie-kanale waarna hulle graag kyk het ‘n verkeerde begrip van geloof by hulle gelos. Baie glo dat net die pastore het spesiale salwing, daarom het die res geen persoonlike of intieme verhouding met Vader nie. Tydens die pastore konferensie het ons met min tyd ‘n nuwe wêreld van ‘n Bybelse leefstyl Vs Kerkleefstyl vir hulle oopgemaak. Hierop het deure vir ons oopgegaan om later vanjaar terug te keer en in verskillende stede kerkleiers toe te rus. Na elke besoek was ons bevoorreg om te hoor van wonderlike getuienis wat afgespeel het. Dit is ‘n voorreg om uit Riversdal ‘n verskil te gaan maak. Hessequa bly natuurlik die beste plek in die wêreld."