Update
HESSEQUA NUUS - Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het 20 ekstra kontrakteurs aangestel om brande tydens die 2020/2021-brandseisoen te beheer en voorkom.
Die Wes-Kaap se minister van plaaslike regering, Anton Bredell het die brandseisoen met 'n maand vervroeg.
Binne die Tuinroete is alle brandweerdienste tot en met Witsand-omgewing sedert Sondag, 1 November op bystand.
Die versoek om die brandseisoen te vervroeg is deur Agri Wes-Kaap aan die minister gerig.
Johan Brand, stasiebevelvoerder van die Tuinroete-brandweerdienste het Woensdag, 4 November gesê met die vervroeging van die brandseisoen is daar ook 'n verbod op die uitreiking van permitte om beheerde brande uit te voer, geplaas.
Dié verbod het op 1 November in werking getree en sal tot 31 Maart volgende jaar van toepassing wees.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap het gesê die vorige drie tot vyf jaar van ondergemiddelde reënval het duidelik in die provinsie se laer as gemiddelde graanopbrengste weerspieël. Hy sê die huidige graanoes lyk baie belowend, maar dat die provinsie in 'n stadium is waar brande 'n gevaar vir koringlande kan inhou.
Bredell het aan Agri Wes-Kaap gesê sy departement deel graanprodusente se kommer oor brande. Hy sê sy departement sal voortgaan om met die landbousektor saam te werk om te verseker dat alles binne hul vermoë gedoen word om die uitbreek van brande te voorkom en die verspreiding van veldbrande te beperk.
Bredell het bygevoeg dat sy departement via die provinsiale rampbestuursentrum met diensverskaffers onderhandel het om hulpbronne van 1 November af beskikbaar te stel om die veiligheid van oeste te verseker.
Brand het verduidelik dat met enige strukturele en veldbrande is die plaaslike owerheid verantwoordelik om eerste te reageer.
Daarna sal die Tuinroete-brandweerdienste ingeroep word en die kontrakteurs hul bystaan.
Volgens Brand is die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se brandweerdienste verantwoordelik om brande in 'n 24 000 vierkante kilometer area te bestry.
Vorige artikel: Brandseisoen met 'n maand vervroeg
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'